Gallery
GEORGE RUGBY-NUUS - Die SWD o.20-rugbyspan is Vrydagmiddag in 'n naelbytstryd op Outeniquapark deur hul eweknie van Griekwas met 21-20 geklop.
Die drie wat in die 55ste minuut van die wedstryd deur Tristan Fourie (binnesenter) van die Jong Arende gedruk is en nie toegeken is nie, het 'n groot invloed op die uitslag van die wedstryd gehad. Die assistent-skeidsregter, Jason Jaftha het uitgewys dat daar obstruksie gepleeg is.
Die skeidsregter, Phumzilo Mbewu het in die tweede helfte van die wedstryd vir Anri Maree (plaasvervanger-slot) met 'n geelkaart van die veld gestuur.
Die Jong Arende het in die 34ste minuut van die eerste helfte 'n groot terugslag gekry toe Adriaan-Lee du Preez (haker) die veld weens 'n kopbesering veld moes verlaat.
Hy is vervang deur Wayne Cameron.
SWD wat rustyd nog met 10-14 agter was, het in die tweede helfte met 'n groot terugvegpoging voor die dag gekom.
Roshwin Abrahams (heelagter) is in die 69ste minuut en Jarret Tities (slot) in die 74ste minuut oor vir drieë wat die tuisspan met 20-14 laat voorloop het.
Ruan Scholtz (plaasvervanger-linkervleuel) is in die doodsnikke van die wedstryd vir die Griekwas oor vir 'n drie. Chadwin November (losskakel) het in die nat omstandighede met die doelskop geslaag wat die besoekers as oorwinnaars van die veld laat stap het. Die Jong Arende het in die tweede helfte van die wedstryd te veel hanteerfoute begaan. Swak besluitneming om liewer die kantlyn op te soek as om pale toe te skop het die span duur te staan gekom.
SWD se ysters voorlangs was Stiaan Grobler, flank en kaptein, Marco Raubenheimer, agtsteman, en die opwindende slot van Ladismith, Jarret Tities. Tities het baie goeie balle vir sy span in die lynstane gewen, in die vastelos gewoel en het met kragtige dryfwerk sy span telkemale oor die voordeellyn geneem. Die jong seun is 'n talentvolle speler wat nog in die toekoms diep spore kan trap in Arende-rugby.
Doriano Claassen, losskakel, glip blitsig deur 'n gaping met sy spanmaat Ronaldo Jansen, vleuel, wat hom gebukkend dophou.
Agterlangs het Roshwin Abrahams, heelagter, Ronaldo Jansen, linkervleuel, die senterpaar, Tristan Fourie en Curtley Scheepers, en Darryn Fortuin, plaasvervanger-senter, in die aanval en verdediging geskitter en getoon dat SWD oor baie talent beskik wat net ontwikkel moet word.
Die Jong Arende speel Saterdagmiddag in hul laaste wedstryd in die Curriebeker se o.20-kompetisie teen die Valke op die Barnard-stadion in Kempton Park. Vir die manne van die Suid-Kaap is dit egter neusie verby om die uitspeelrondes te haal.
Puntemakers:
- Jong Arende 20 (10): Drieë - Ronaldo Jansen (linkervleuel),
- Roshwin Abrahams (heelagter),
- Jarret Tities (slot). Abrahams slaag ook met 'n doelskop en 'n strafdoel.
Griekwas 21 (14): Drieë - Martian Nel (flank), Tiaan Fourie (binnesenter), Ruan Schultz (plaasvervanger-linkervleuel). Chadwin November (losskakel) slaag met 2 doelskoppe en Gladwin Nieuwenhuizen (regtervleuel) klits ook 'n doelskop oor.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'