SUID-KAAP NUUS - Die SWD o.20-rugbyspan se stutte, C J van Niekerk en Denver Prins, was Saterdagmiddag in 'n verwoestende bui in hul wedstryd teen die Griekwas in Kimberley.
Die wedstryd, wat in die Curriebeker se o.20-kompetisie gespeel is, het met 36 elk gelykop geëindig.
Rustyd was die Arende met 24-10 voor.
Die Griffons, wat reeds 7 wedstryde gespeel het, is eerste op die punteleer met 31 punte en 'n punteverskil van (+153). Die Arende is na 5 wedstryde tweede met 19 punte en 'n punteverskil van (+48). Die wedstryd was teen 'n hoe tempo gespeel en beide spanne het aanskoulike rugby opgedis.
Veral Prins en Van Niekerk het die Griekwas in die skrums laat kreun en niks minder as vier vaskoppe verseker nie. Prins is aangewys as speler van die wedstryd.
Met die goeie platvorm vanaf die voorspelers kon die span reeds voor rustyd hul bonuspuntdrie druk. In die tweede helfte was dit duidelik dat die agt ure busrit en 'n paar vreemde beslissings die Jong Arende inhaal en kon Griekwas terugkom in die wedstryd. Die span het egter goeie karakter en veggees getoon en met drie waardevolle punte huis toe gekom.
Eddie Myners, hoofafrigter het na die wedstryd gesê: "Ons doel was vyf punte in Kimberley, maar ons het geweet dit gaan baie hard wees daar. Ons het baie goed geskrum en was gevaarlik met die bal in die hand, maar ons man-op-man verdediging het ons soms in die steek gelaat, asook 'n laat onderskepdrie van Griekwas. Die spelers se veggees om die wedstryd te probeer deurhak in laaste minute was voorwaar iets besonders en as afrigterskorps is ons trots op hulle. Dit is waardevolle 3 punte wat ons posisie verstewig op die punteleer."
Die Jong Arende speel more (Vrydag) om 15:30 teen die Valke op Outeniquapark en daar word 'n beroep gedoen op die publiek om die talentvolle span in groot getalle te kom ondersteun.
Puntemakers
SWD o.20 36 (24): Drieë - Reinhardt Stears (haker), Austin Johnson (slot), Jaywin Pietersen (linkervleuel, 2) Michael Fernol (binnesenter). Strafdrie. Doelskoppe: Tristan Fourie (losskakel), Ronaldo Fortuin (heelagter).
ARTIKEL: ANDRE STANDER
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'