GEORGE NUUS - Die Jong Arende het 'n baie goeie kans om die uitspeelrondes van SA Rugby se o.21-skildreeks vroeg in Oktober te haal nadat hulle Vrydag 16 September Griekwas met 21 - 17 geklop het.
Dit was die span se derde oorwinning uit vier wedstryde. Die Jong Arende het teen die Valke in vanjaar se reeks verloor.
Maar voordat die Jong Arende kan dink aan die uitspeelrondes moet hulle eers met die Griffons op 30 September afreken.
Gelukkig vir SWD is dit 'n tuiswedstryd.
Verlede Vrydag se wedstryd teen Griekwas was kliphard en beide spanne het geen genade getoon op die groen gras van Outeniquapark nie. Die handjie vol toeskouers wat die wedstryd bygewoon het, was seker nie spyt nie, want daar was by tye opwindende rugby.
Onder die toeskouers was veral twee mense wat die wedstryd met arendsoë dopgehou het, Anton Moolman, hoofafrigter van die SWD Arende en Zane Kirchner, hulpafrigter. Hulle het gekyk of daar nie spelers is wat later oorweeg kan word vir die senior span nie.
Griekwas en SWD se o.21-spanne spook dit Vrydagmiddag uit op Outeniquapark in 'n o.21-skildreekswedstryd.
MUST - Gerwyn Alexander, (links) afrigter van SWD se o.21-span en Wayne Jampies, voorspelerafrigter van Griekwas se o.21-span na die wedstryd. Hulle het in die verlede vir ses jaar saam met die Griekwas se o.21-span afgerig.
Met rustyd het Moolman sy indrukke gedeel. Hy het gesê dit is goed om van die jong talent in aksie te sien. Daar is beslis talent in die o.21-geledere. Dis baie individuele talent en uit 'n spanoogpunt in hul huidige opset moet hulle net kollektief saamkom.
Tydens die wedstryd het SWD twee keer agter die doellyn gaan kuier en Griekwas drie keer. Met enkele minute speeltyd oor het Griekwas besef dis nou of nooit en het verwoed aangeval. SWD het egter kopgehou en die aanslag afgeweer.
Gerwyn Alexander, SWD se o.21-afrigter, het na die wedstryd sy tevredenheid met sy span se vertoning uitgespreek.
Hy het gesê dit was 'n baie harde wedstryd. "'Ons kan net bou op die vertoning. Ons het baie geleer uit die wedstryd. Die span se eerste helfte was baie swak.
Ons het geleer dat ons nie in die verdediging kan wag nie. Ons moet die ouens gaan haal."
Volgens hom speel die span elke week bietjie beter. Hy besef daar is 'n harde wedstryd môre oor 'n week, 30 September, teen die Griffons. Hulle is nog onoorwonne en dit is die span in die reeks om vanjaar te wen.
Die Jong Arende, die spanbestuur en ondersteuners na hul oorwinning Vrydagmiddag op Outeniquapark. LINKS: Griekwas en SWD se o.21-spanne spook dit Vrydagmiddag uit op Outeniquapark in 'n o.21-skildreekswedstryd. REGS: Gerwyn Alexander, (links) afrigter van SWD se o.21-span en Wayne Jampies, voorspelerafrigter van Griekwas se o.21-span na die wedstryd. Hulle het in die verlede vir ses jaar saam met die Griekwas se o.21-span afgerig. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'