Gallery
TUINROETE RUGBY-NUUS - Die manne van Jaguars het rede om breëbors rond te loop nadat hul Saterdagmiddag vir George in die Presidentsliga finaal van die SWD op Outeniquapark met 26-19 getroef het.
Jaguars van Plettenbergbaai, wat in die halfeindstryd vir Albertinia Rangers met 51-38 afgestof het, vorder nou na die Premierliga-kompetisie vir die 2019 seisoen.
Vir George is dit terug na die tekenbord nadat hul in 2017 ook in die eindstryd deur Heidelberg met 20-28 geklop is.
Die skeidsregter, Charl Jacobs, het na rustyd vir Eswyn Heyns (plaasvervanger heelagter) van George met 'n geelkaart van die veld gestuur. George het in die eerste helfte die oorhand gehad en drie skitterende drieë gedruk. Chris Kruger (agtsteman en kaptein), Logan Vorster (flank), Jacques Bothma (slot) en senterpaar, Eugene Heneke en Brandon Solomons, het goeie spel gelewer. Jaguars se skrumskakel, Chesco Julies, het in die eerste helfte met vier strafdoele geslaag. Rustyd was George met 19-12 voor.
Die wenspan het 'n groot terugslag gekry toe Julies net na rustyd met 'n ribbesering van die veld is. Hy is vervang deur Franklin Plaatjies. Jaguars se blits, Sheriff Titus (regtervleuel), het die wendrie in die 78ste minuut gaan druk na 'n puik breekslag deur Bentley Jones (heelagter).
George se probleem was dat hul betroubare skopper na die pale, Nathan Scott (losskakel), in die tweede helfte twee maklike skoppe verbrou het.
Vir die wenspan het hul lostrio, Phumzile Klaas, Bramwill Filex en Lorenzo Mbaywe voorlangs gekook. Nigel Maart (linkervleuel), Rhyno Savage (binnesenter) en Bentley Jones (heelagter) was agterlangs hul beste spelers.
Uitslae en puntemakers van eerste en tweede spanne in Presidentsliga finale:
Jaguars l (26): Drieë - Bramville Filex (flank), Sheriff Titus (regtervleuel). Chesco Julies (skrumskakel) slaag met vier strafdoele en Byron Willemse (losskakel) klits twee doelskoppe oor.
George l (19): Drieë - Leon Smart (slot), Chris Kruger (agtsteman en kaptein), Andre Breytenbach (haker). Nathan Scott (losskakel) slaag met twee doelskoppe.
Riversdal Blues B (25): Drieë - Jerome Esau (linkervleuel, 3), Patrick Flink (plaasvervanger binnesenter). Delando Jacobs (heelagter) slaag met 'n doelskop en 'n strafdoel.
Springroses B (15): Drieë - Abe Julies (slot), Attie Goliath (losskakel). André Fortuin (heelagter) slaag met 'n doelskop en 'n strafdoel.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'