RUGBY NUUS - Die SWD Arende moet Saterdag 11 Maart oor 'n hoë hekkie probeer spring wanneer hulle teen die Valke in Gauteng in die eerste divisie van die Curriebekerreeks speel.
As daar na hul vertoning van verlede Saterdag, 4 Maart, teen die Grens Bulldogs in Oos-Londen gekyk word, behoort hulle 'n baie goeie kans te hê. Die Arende het die Bulldogs 50 -12 afgeransel. Die wedstryd is op die Bulldogs se tuisveld gespeel.
Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende, het Maandag gesê die Arende het agt keer agter die doellyn gaan kuier. In die eerste helfte het die Arende ses keer gaan druk.
Volgens hom was die Arende se verdediging goed. Die Arende het ook gekapitaliseer op die foute van die Bulldogs.
In die tweede helfte het die Arende so bietjie die voet van die pedaal gehaal en die Bulldogs het ook beter gespeel in die tweede helfte. "Ons was ons eie vyand in die tweede helfte."
Volgens Moolman neem die Arende baie positiewe uit die wedstryd. Hy het bygevoeg daar is aspekte waaraan gewerk moet word.
Die Arende is nou vierde in die liga. Eerste is Boland, gevolg deur OP, die Valke en dan die Arende. "Ons wil verbeter."
Moolman het gesê die Valke is 'n goed afgerigte span. Hulle het verlede naweek teen die Luiperds met 43 - 27 gewen.
Verlede jaar het die Arende hulle met twee punte op hul tuisveld in Gauteng geklop. "Hulle sal beslis die bordjies vanjaar wil verhang."
Van die Arende se sleutelspelers is beseer. Daar is egter ander spelers in die groep wat ingekom het en hul kanse in die span benut het. Daar is diepte in die span, maar daar is een of twee posisies waar die span bietjie dun is en die Arende daaraan aandag gee.
Die Arende sien uit na Saterdag se wedstryd. Dis weer 'n wegwedstryd en weer teen 'n kwaliteitspan.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'