Só het die Springbok-afrigter, Heyneke Meyer, Maandag gereageer op 'n vraag uit die gehoor oor hoekom die All Blacks so suksesvol is. Hy was die geleentheidspreker by die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) se George-kampus op Saasveld.
Meyer se praatjie, wat hy met videogrepe van die Springbokke en Blou Bulle se suksesse op die rugbyveld toegelig het, het oor "Afrigting: Vir lewe en besigheid" gegaan en het groot byval gevind by die sowat 60 gaste wat die sakeontbyt bygewoon het.
Meyer het gesê in Nieu-Seeland werk almal en alles, vanaf ju-nior tot op senior vlak, saam om die All Blacks te ondersteun. "Hier gaan dit om een span en alles wat hulle aanpak is daarop gerig om die All Blacks optimaal te ondersteun.
"In Suid-Afrika is ons nog nie daar nie. Hoewel daar al beter samewerking van die verskillende franchises se kant af is, is die wedywering en druk om te wen tussen die verskillende plaaslike spanne nog te groot. Dis veral opmerklik in die Superrugby-reeks."
Nog 'n gebied waar die All Blacks ons ver voor is, het Meyer gesê, is met taktiese skopwerk. "Dit was eens ons sterkpunt, maar die All Blacks se taktiese skopwerk is nou die beste. "Statistieke wys dat die All Blacks verlede jaar die meeste van alle spanne geskop het en hulle doen dit eenvoudig beter as die meeste ander spanne.
"Hulle is meesters in die kuns om groot druk op hul teenstanders te plaas en dan te wag vir 'n swak skop van die opposisie om 'n teenaanval te loods. Dan is hulle dodelik."
Daarom is taktiese skopwerk die één afdeling waar hy graag die Bokke se spel graag wil verbeter. "Ons skop te veel doellose skoppe veldaf wat ons teen goeie aanvallende spanne soms al duur te staan gekom het. Ons sal hard daaraan moet werk om ons taktiese skopwerk in meer aanvallende skoppe om te sit.
"Taktiese skopwerk moet jou op die aanval plaas en as ons die bal móét skop moet daar 'n paar opsies in plek wees om die bal weer in die hande kry. Dit beteken eenvoudig meer aanvallende as doellose skoppe."
Die beserings aan 'n klomp Springbok-staatmakers is ook 'n groot kopseer vir Meyer vóór die internasionale wedstryde in Junie afskop. "Die Bokke het verlede jaar met hul kondisionering gesukkel. Die All Blacks is juis goed daarmee om hul sleutelspelers te laat uitrus en diegene met beserings behoorlik te laat herstel."
Die Bokke pak 'n Wêreld-vyftiental op 7 Junie op Nuweland, maar sleutelspelers soos Eben Etzebeth, Francois Louw, Ruan Pie-naar, Pat Lambie en Pieter-Steph du Toit sal waarskynlik nie gereed wees nie. "Ons sit met 'n netelige probleem: aan die een kant het ons het 'n groep spelers wat te veel rugby speel en aan die ander kant 'n groot groep beseerdes wat lank laas gespeel het. Om te verwag dat hulle onmiddellik weer in hul beste fisieke toestand gaan wees en goed bymekaar gaan inskakel, is wensdenkery."
Hy wil dus die wedstryd teen die wêreldspan gebruik om sleutelspelers se fiksheid op te skerp voor die eerste toets teen Wallis in Durban op 14 Junie.
Meyer het gesê hy gaan nie veel torring aan sy kerngroep wat hy in die oog het met aanstaande jaar se Wêreldbekertoernooi nie. "Daar is net 18 toetse oor voor rugby se grootste skouspel in Engeland afskop en ek het 'n redelike goeie idee wie ek wil kies vir dié toernooi. Ek ken die meeste van die spelers teen die tyd en weet wat ek in hulle het."
Hoewel daar 'n paar nuwelinge is wat tans uitblink in die Superrugby-reeks, sal Meyer waarskynlik nie te veel nuwe bloed inbring nie en eerder terugval op sy groep ervare staatmakers wat hulself al op hoogste vlak bewys het. Spelers soos Victor Matfield en Schalk Burger, wat hy albei hoog aanslaan. Meyer het gesê Matfield het nie sy gelyke as dit kom om sy teenstanders se lynstaankodes te ontsyfer nie.
Hy glo in sy hart die Bokke gaan aanstaande jaar se Wêreldbekertoernooi wen. "Ons het die ervaring en diepte. En ons gaan met een doel: om dié toernooi te wen. Wat ook sterk in ons guns tel, is dat ons twee keer vantevore op rugbytoere in die Noordelike Halfrond onoorwonne was. Nie veel spanne kon dit nog regkry nie."
Die SWD Arende kan natuurlik weer, soos van ouds, op die hoogste vlak meeding, maar dan moet elkeen betrokke by dié unie glo in homself en 'n duidelike visie hê wat hulle met passie en toewyding moet nastreef. Dit was die bondige boodskap wat die Springbok-rugbyafrigter, Heyneke Meyer, aan die Arende se afrigtingspan gegee het toe hy Maandag by 'n sakeontbyt op die NMMU George-kampus die spreker was. By die geleentheid was, van links: Anton Leonard, (hulpafrigter van die Arende), Heyneke Meyer, Ian Schwartz (Springbok-spanbestuurder), Bevin Fortuin (hoof-afrigter) en Rynard van As (spanbestuurder van die Arende). Foto: Hugo Redelinghuys
ARTIKEL: HUGO REDELINGHUYS, GEORGE HERALD-SPORTREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'