RUGBY NUUS - Heidelberg het Barbarians Saterdag 2 Julie in Mosselbaai in hul SWD Super A-kragmeting behoorlik voor hul tuisskare met 71 - 20 vermorsel en seker gemaak dat die Baabaas nooit hierdie drag slae sal vergeet nie.
Heidelberg se voor- en agterspelers het van die afskop af alle fasette van die wedstryd oorheers.
Die eerste drie van die wedstryd is binne 10 minute deur die veelsydige agterspeler, Corbin Swartbooi, gedruk.
Die tuisspan het alles in die stryd gewerp om die swart-en-wit-trein te stop, maar daar was geen keer aan Heibi nie.
Drieë is soos sardyntjies ingeryg, want ná elke agterlynbeweging is daar oor die doellyn geval vir 'n drie. Met die skrif aan die muur het die reserwekrag van Heibi ook nog sout in die wonde van Barbarians gevryf.
Die losvoorspelers van Heidelberg het 'n groot bydrae gelewer op verdediging en Marcelino Meyer (flank) is beloon met twee pragtige drieë.
Baabaas het tot aan die einde teruggeveg en kon twee mooi drieë in die laaste paar minute van die wedstryd druk. Van die tuisspan se ondersteuners het toe reeds die stadion verlaat toe die telling nog steeds teen Baabaas aangegroei het.
Heibi se derde span moes die knie buig teen hul eweknie en het met 7 – 26 verloor, terwyl die B-span van Heibi hulle wedstryd met 13 - 9 gewen het.
Puntemakers (A-span): Corbin Swartbooi (1), Jason Liebenberg (1), Enslin Naudt (3), Lorenzo Gordon (3), Marcelino Meyer (2) en Berthal September (1).
Skoppe: Corbin Swartbooi (3doelskoppe), Eslin Naudt (2 doelskoppe) en Berthal September 3 doelskoppe.
Heidelberg se eerste rugbyspan nadat hulle Barbarians Saterdag in Mosselbaai met 71 - 20 kafgedraf het.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'