SUID-KAAP NUUS - Heidelberg-rugbyklub het Saterdag 26 Mei al drie hul wedstryde weg teen Blanco gewen.
In die hoofwedstryd tussen die twee eerstespanne het Heibi in die laaste paar minute met 30-27 hul SWDR-Premierliga-wedstryd gewen, nadat hulle rustyd met 15-13 agter was. Die tuisspan wat die seisoen nie goed begin het nie, het baie verbeter en die besoekers by tye hard bene, veral in die skrums met hul swaarder pak voorspelers, laat kou.
Die besoekers het eerste punte aangeteken met 'n strafskop deur die heelagter, Corbin Swartbooi in die 12de minuut. Die tuisspan het drie minute later ook hul eerste punte met 'n skepskop deur Clide Davids aangeteken. Heibi het hul eerste drie na 21 minute deur Jason Liebenberg, na 'n briljante lopie aangeteken, wat deur Swartbooi verdoel is. Laasgenoemde het nog 'n strafskop voor rustyd aangeteken.
Blanco het twee drieë deur Justin Ruiters en Elton Olivier voor rustyd aangeteken. Davids het met 'n doelskop geslaag om sy span 'n skrale voorsprong te gee.
In die tweede helfte het die telling wipplank gery. Heibi het weer die eerste punte aangeteken toe Marquit September 'n drie gedruk en Swartbooi dit verdoel het om 20-15 voor te loop. Die tuisspan het in die 60ste minuut die voortou geneem toe Heibi tydens 'n skrum met 'n strafdoel gepenaliseer is. Hulle het egter binne twee minute met 'n drie deur Jason Michaels teruggekap, wat weereens deur Swartbooi verdoel is.
Die tuispan het hul laaste punte met 'n drie deur Marshall Abrahams aangeteken om die telling op 27 elk te bring, met ongeveer 14 minute speeltyd oor.
Heibi het met so ses minute speeltyd oor die knoop deurgehaak met 'n geslaagde strafskop. Heibi se tweedespan behaal 'n wegholoorwinning van 38-0 behaal, nadat hulle rustyd met 'n skrale 7-0 voorsprong gedraai het.
Heibi se derdespan wen naelskraap met 19-17 nadat hulle rustyd gelykop met 7-7 was.
Met die oorwinning in die laaste wedstryd van die eerste ronde, skuif Heibi nou in die derde plek, net twee punte agter Barbarians wat in die tweede plek agter Progress is. Heibi se tweedespan beklee nou die eerste plek terwyl die derdespan die sesde plek beklee.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'