Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Veiligheid van rugbyspelers op die veld in SWD het verlede Donderdag, 18 Mei, 'n groot hupstoot gekry toe broodnodige mediese en noodhulptoerusting aan 'n aantal klubs oorhandig is.
Die toerusting ter waarde van R27 000 is aan verteenwoordigers van 12 Superliga A-klubs tydens 'n spesiale geleentheid by Outeniquapark oorhandig.
Altesaam sewe vrouerugbyklubs het uitrustings ontvang.
Verteenwoordigers van die klubs, wat verantwoordelik is vir noodhulp by wedstryde het ook opleiding ontvang. Die toerusting kon oorhandig word danksy hulp van die Sports Trust, Living Brands en die Nasionale Lotery Kommissie (NLC).
Ben Brinkhuis, president van SWD-rugby, het sy dank uitgespreek teenoor diegene wat die skenking moontlik gemaak het.
Hy het spesiale dank teenoor die Sports Trust uitgespreek wat agter die skerms 'n groot rol gespeel het. Die Sports Trust is deur Mervin Green verteenwoordig en Innis Erasmus van Living Brands wat ook by Pro Physio betrokke is.
Brinkhuis het gesê dit gee die unie en belanghebbendes hoop. Die onus is nou op die klubs om die toerusting na die beste van hul vermoë te gebruik.
VIDEO: Hulp vir klubs
Hy het aan George Herald gesê dis 'n groot en heuglike gebeurtenis. Die klubs kan nou toesien dat rugby op die veld baie veiliger is. Dit wys dat SWD wil terugploeg. Die veiligheid van die spelers is nie onderhandelbaar nie. Daar moet seker gemaak word dat die veiligheid van spelers 'n prioriteit is.
Ben Brinkhuis, president van SWD-rugby, spreek aanwesiges toe tydens die geleentheid. Foto's: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’