RUGBY NUUS - Alle rugbyoë gaan Saterdag 29 Julie op Outeniquapark gerig wees waar die SWD Eagirls teen die Luiperds in 'n halfeindstryd in die vroueafdeling van die Curriebekerreeks speel.
Wen die Eagirls, speel hulle 'n week later in die eindstryd. Hulle teenstanders sal of die Cheetahs of die Limpopo Blou Bulle wees.
Sou die SWD Eagirls deurdring na die eindstryd en hul teenstanders is die Cheetahs sal die wedstryd waarskynlik in Bloemfontein wees.
SWD Eagirls het die afgelope Saterdag gewys dat niks in hul pad gaan staan nie. Die span het die Limpopo Blou Bulle in Polokwane met 36 - 10 getroef. Teen rustyd was die SWD Eagirls reeds met 24 - 5 voor.
Die speler van die wedstryd was Veronica Nelson van die SWD-span.
Reeds voor dié wedstryd het SWD Eagirls 'n halfeindstryd in die vroueafdeling van die eerste divisie van die Curriebekerreeks vasgemaak.
Die span het nou sewe wedstryde agter die rug en kan spog met ses oorwinnings. Net by een geleentheid was die span aan die verloorkant.
Elize Arendse, afrigter van die SWD Eagirls, het Dinsdag gesê daar is Saterdag lekker aanvallende rugby gespeel.
"Hulle (Limpopo Blou Bulle) het dit nie vir ons maklik gemaak nie. Die belangrikste is ons het gewen. Ons fokus is nou op Saterdag se wedstryd teen die Luiperds. Dit gaan nie 'n maklike wedstryd wees nie en ons wil dit nie vooruitloop nie."
Die span hoop om te wen.
Ben Brinkhuis, president van SWD-rugby, het gesê die unie is baie trots op die span. Dis die vierde agtereenvolgende jaar wat ons so ver gevorder het." Die span het verlede jaar die eindstryd gewen. "Ons hou duime vas vir die span."
Veda Manie, bestuurder van SWD-rugby, het gesê die wedstryd begin om 13:00 en die hekke open om 12:00.
Toeskouers is welkom en toegang is gratis.
Die SWD Eagirls na hul oorwinning teen die Limpopo Blou Bulle.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’