GEORGE NUUS - Dat vrouerugby besig is om in gewildheid toe te neem blyk uit die groot getal vrouespanne wat aan die Africa Skills George Tens Sport- en Leefstylfees gaan deelneem.
Altesaam 23 vrouerugbyspanne het ingeskryf wat o. 13-spannetjies insluit vir die fees wat van 15 tot 18 Desember plaasvind. Die rugby deel is by Outeniquapark.
Die mans bly nie agter nie, 40 spanne het ingeskryf.
Dit sal vanjaar die derde keer aangebied word. Ofskoon dit reeds verlede jaar 'n sukses was, word meer toeskouers vanjaar verwag.
Rugby (10-kode rugby - mans en dames) is die hoofdis, maar daar sal ook in gholf, netbal, strandvlugbal, raakrugby, veldlope en bergfietswedrenne meegeding word.
Verlede jaar kon die veldwedlope en bergfietswedrenne nie plaasvind nie as gevolg van vloedskade op roetes in die berg.
Juanita da Matta, een van die organiseerders het Dinsdag 6 Desember gesê die organiseerders is aangenaam verras in die groot getal inskrywings vir die vrouerugby.
Die rugby begin op 16 Desember en vind ook plaas op 17 en 18 Desember. Die onderskeie eindstryde vind op 18 Desember plaas. Meer as 50 wedstryde gaan gespeel word.
Volgens haar is die belangstelling vir die bergfiets en veldlope goed. Mense kan nog inskryf tot die dag voor die wedrenne.
Vir slegs R200pp vir 'n 3-dag ingangskaartjie, kan iemand rugby, netbal, bergfiets, roetehardloop, die fees en musiekkonserte met Heuwels Fantasties (16 Desember), Spoegwolf (17 Desember) en Early B (18 Desember). Die 1925 Band gaan ook optree.
Die boeresport op Wildernisstrand is gratis om aan deel te neem en daar is nog plek vir vlugbal en raakrugbyspanne om in te skryf.
Die gholf sal op 15 Desember by Pinnacle Point, Mosselbaai gespeel word. Van die bekendes wat teenwoordig sal wees is Anton Leonard, Peter Hendriks, Vlok Cilliers, Victor Matfield en Wynie Strydom.
Vorige artikel: Alles op koers vir George Tens
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'