Video
RUGBY NUUS EN VIDEO - Reëlings is op koers vir een van die grootste sportfeeste in George se geskiedenis, die George Tens Sport- en Leefstylfees wat van 15 tot 18 Desember aangebied word.
Dit sal vanjaar die derde keer aangebied word. Ofskoon dit reeds verlede jaar 'n sukses was, word meer toeskouers vanjaar verwag.
Verlede jaar was daar beperkings op toeskouergetalle as gevolg van Covid-regulasies, maar dit is nie meer vanjaar van toepassing nie.
Die fees het verlede jaar tussen 2 en 5 Desember plaasgevind, maar vanjaar vind dit later plaas en na verwagting sal dit meer besoekers lok omdat daar dan meer vakansiegangers in die gebied is.
Rugby (10-kode rugby - mans en dames) is die hoofdis, maar daar sal ook in gholf, netbal, strandvlugbal, raakrugby, veldlope en bergfietswedrenne meegeding word.
Verlede jaar kon die veldwedlope en bergfietswedrenne nie plaasvind nie as gevolg van vloedskade op roetes in die berg.
Die meeste aktiwiteite vind by die Outeniqua-stadion plaas, maar daar sal ook gholf gespeel word by Oubaai en Pinnacle Point. Voorts sal raakrugby en strandvlugbal by Wilderness-strand plaasvind.
Daar sal beslis ook iets vir die kinders aangebied word. Boeresport voor die raakrugby en strandvlugbal sal by Wilderness-strand plaasvind.
Die oud-Springbokafrigter en sportadministrateur, Heyneke Meyer, is weer by die reëlings betrokke. Meyer het Maandag 14 November gesê die belangstelling is in die stadium reeds meer as verlede jaar. "Mense is honger vir sulke geleenthede en ons verwag 'n feestelike atmosfeer."
Verlede jaar kon net 2 000 toeskouers toegelaat.
Hy het benadruk dis 'n sport- en leefstylfees. Dis 'n familiegeleentheid en dit gaan oor die samesyn van mense. Daar sal ook saans musiek, ander vermaak en 'n biertent wees.
Die Afrikaanse rockgroep, Die Heuwels Fantasties tree op 16 Desember op. Spoegwolf tree op 17 Desember op en Early B op 18 Desember. Elke aand sal die 1925-band optree.
Elke deelnemer sal toegang kry tot al die sosiale geleenthede soos die musiekuitvoerings.
Minstens 50 spanne het reeds vir die rugby ingeskryf. Die datums behoort ook 'n pluspunt te wees. Na verwagting sal tussen 6 000 en 7 000 mense by die geleentheid betrokke wees. "Ons hoop die gemeenkap pak die stadion vol."
Een van die rugbywedstryde op die hoofveld van Outeniquapark tydens verlede jaar se sportfees.
Die organiseerders gaan ook terugploeg en so byvoorbeeld sal die Maandag voor die geleentheid begin, 'n rugby-afrigtingskliniek vir leerlinge aangebied word.
Verskeie bekendes in die rugbywêreld is betrokke by die geleentheid. Onder hulle is Victor Matfield, Vlok Cilliers, Peter Hendriks en Rynhardt van As, 'n voormalige afrigter van die SWD Arende.
Hy glo die raakrugby en strandvlugbal op die strand sal baie gewild wees.
Nog 'n nuutjie is gemengde netbal. Gemengde dames en mans netbalspanne sal teen mekaar meeding.
Dirk Wessels, burgemeesterskomiteelid vir finansies en strategiese dienste van die stadsraad, het gesê die munisipaliteit is weer betrokke. Die instansie verskaf finansiele en logistieke hulp.
Dit het verskeie voordele en dit help die plaaslike ekonomie. Die fees bied 'n alternatief vir die sewesrugbytoernooi wat in die verlede in Desember met groot sukses in George aangebied is.
VIDEO: Grootste sportfees in George se geskiedenis
Die algemene publiek kan deelneem aan verskeie sportsoorte. Dis een van die sportfeeste in die land waar daar meer as vier sportkodes is. Dit skep familie deelname.
Dit lok ook mense wat nie noodwendig hierheen sou gekom het nie.
Volgens Wessels sal vanjaar se fees na verwagting een van die grootste sportfeeste in George se geskiedenis wees.
Vir meer inligting gaan na www.georgetens.co.za.
Mense sal dagkaartjies by die hekke kan koop of vooraf bespreek deur Ticketpro.
Dirk Wessels, burgemeesterskomiteelid van die George-stadsraad.
Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'