RUGBY NUUS - Die voorseisoen gaan vir George-rugbyklub allesbehalwe rustig wees: drie opwarmingswedstryde wag waarin spelers deeglik getoets gaan word voordat die 2026-seisoen afskop.
Die eerste kragmeting vind Saterdag 21 Februarie plaas wanneer George vir Blanco United in die Gaatjie in Blanco gaan aandurf.
'n Week later, op 28 Februarie, volg een van die hoogtepunte van hul voorbereiding wanneer hulle die SWD-klubkampioen, Evergreens, op hul tuisveld, Outeniquapark, pak.
Hierdie ontmoeting het oor jare 'n gevestigde tradisie geword en dien ook om die gesonde band tussen die twee klubs verder te versterk.
Die laaste opwarmingswedstryd op 7 Maart behoort groot belangstelling te lok wanneer die Argentynse klub, Club de Rugby Ateneo Inmaculacha (CRAI) George besoek.
Op dieselfde dag speel Hoër Landbou-skool Oakdale se eerste span ook teen Harlequins-rugbyklub.
Kaartjies is beskikbaar by We Ticket.
Jacques van Reenen, klubpresident, reken sake by dié klub lyk belowend: "Ons het 'n gesonde mengsel van nuwe en gevestigde spelers en almal is gretig om hul staal te wys.
"Daar is opwindende name soos Francois Kemp, Uyanda Mlungwana, Bennett Nortje, Luvo Fongqo, Eon October, Marco Steyn en Jordan Pretorius wat hierdie seisoen hul merk gaan maak. Ons oefengroepe groei weekliks en ons het tans sowat 70 spelers op die veld."
Individue of organisasies wat by die klub betrokke wil raak, kan die voorsitter, André Grobler, by 079 898 8745 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’