GEORGE RUGBYNUUS - As hy enige plek in Suid-Afrika kon kies om 'n professionele span af te rig sou George bo-aan sy wenslys gewees het. Só het John Dobson, hoofafrigter van die Stormers, aan die George Herald se Hugo Redelinghuys gesê.
Die Stormers was vir 'n paar dae in George vir 'n oefenkamp op Outeniquapark en het vandag na Kaapstad teruggekeer.
"George is een van die mooiste plekke in Suid-Afrika en dit sal 'n ongelooflike voorreg vir enige afrigter wees om 'n klomp professionele rugbyspelers hier te slyp. Die skoonheid van die Tuinroete en die fantastiese ondersteuning van die rugbypubliek is oorweldigend."
Dobson het effens uitgebrei oor sy planne vir die Stormers se veldtog in die Super-reeks. "Vanjaar was nie ons beste jaar op die rugbyveld nie. Ons het gesukkel en nie veel hond haaraf gemaak in ons konferensie nie. In die Curriebeker-reeks het ons ook teleurgestel en dit sal ons aanstaande jaar wil regstel."
Met die storms wat vanjaar agter die skerms by die WP-rugbyunie gewoed het, was dit te wagte dat dié gebeure sou oorspoel na die spelers. "Maar dit lyk nou of sake by die beleërde unie uitgepluis is en ons voluit kan konsentreer op die spel."
Dobson glo hy het die spelers om vanjaar in die Super-reeks mededingend te bly. Op plaaslike vlak reken hy die Sharks hou die grootste bedreiging vir die Stormers in.
Hy het die hoop uitgespreek dat die vriendskaplike oefenwedstryd tussen die SWD Arende en die Stormers weer op dreef kan kom, want "die ondersteuners in die Suid-Kaap is ongelooflik. En jul klubrugby is so gesond."
Opvallend by Maandag se oefening was hoe gewild die Bok-kaptein, Siya Kolisi is. Hy is oorval deur handtekeningjagters en ondersteuners wat selfies met hom wil afneem.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'