GEORGE NUUS - Die bulspanne van Evergreens en Crusaders het mekaar Saterdagmiddag op 'n volgepakte Pacaltsdorp-stadion met mening aangeval in die SWD Premierliga-rugbykompetisie.
Evergreens het vier drieë gedruk in hulle volpunte oorwinning van 24-17. Albei spanne het opwindende hardlooprugby gespeel. Voorlangs was die stryd genadeloos en die humeure het telkemale opgevlam.
Die skeidsregter, Nortan Muller, het hom goed van sy taak gekwyt.
Crusaders het eerste bloed geruik in die vyfde minuut van die wedstryd toe hul spoedvraat, Ruben Loxson (regtervleuel), 'n bal onderskep en onder die pale oorgeval het. Dis verdoel deur Henry Wolhuter (losskakel) en het Crusaders met 7-0 laat voorloop.
Wayne Khan (haker) en Gurshwin Muller (agtsteman) is voor rustyd oor vir drieë vir Evergreens. Ervin Harris (losskakel) kon in die winderige omstandighede een van die drieë verdoel. Die tuisspan was rustyd met 12-7 voor.
Na rustyd het Crusaders se Rico Afrika (plaasvervanger-linkervleuel) 'n pragdrie gedruk na 'n puik breekslag deur die belowende buitesenter Jayden Onkers.
Wolhuter het met die doelskop geslaag en daarna ook nog met 'n strafdoel wat die besoekers met 17-12 laat voorloop het.
Chadley Stride, heelagter van Evergreens, stamp sy teenstander van Crusaders af.
'n Blitzkrieg van drieë binne vyf minute deur Linden Rhoode (plaasvervanger-losskakel) na 'n puik breekslag deur Marshall Boesak (binnesenter) en Francois Kemp (flank) van Evergreens het die besoekers gekelder. Chadley Stride (heelagter) het albei drieë verdoel wat die eindtelling 24-17 gemaak het.
Veral Kemp se pragdrie in die hoekie nadat hy verskeie teenstanders afgestamp het, het die groot skare op hul voete gehad.
Evergreens se vurige flank en kaptein, Buran Parks, het weer 'n kapteinsbeurt gespeel. In die lynstane was hy vir sy span goud werd en sy leierskap het 'n groot bydrae gelewer dat hul die knoop kon deurhaak.
Evergreens was ook baas in die skrums. Veral Wayne Khan (haker), slotpaar, David Claassen en Llewellyn Treurnicht, Kemp en Muller het die vuur voorlangs verskaf.
Hul vleuels, Taswin da Silva en Dwayne Smart, was agterlangs die gevaarmanne.
Gurshwin Muller (met bal) val oor sy teenstander met Buran Parks wat sake dophou. Regs die skeidsregter, Nortan Muller, wat hom goed van sy taak gekwyt het.
Crusaders het 'n groot terugslag gekry toe hul kaptein, Declan Coetzee (slot), vroeg in die eerste helfte die veld moes verlaat met 'n kniebesering. Hul stewige stut, Lyle Delo, moes ook voor die wedstryd onttrek weens 'n besering.
Die 18-jarige Curtley Scheepers (heelagter), Jayden Onkers (buitesenter), Ruben Loxton (regtervleuel), Dumisani Meslane (plaasvervanger-agtsteman) en Freginald Africa (flank) het uithalerspel vir die besoekers gelewer.
Die verdedigende kampioen, Progress, het vir Groot-Brakrivier op sy tuisveld maklik met 33-19 geklop nadat hul rustyd reeds met 21-14 voor was.
Progress het vyf pragdrieë gedruk.
Die spoedvraat, Bradley Pietersen (linkervleuel), Mzoxole Dyantyi (skrumskakel), Brianto Booysen (haker) en Hendrik Kriek (loskopstut) is oor vir drieë vir die wenspan. 'n Strafdrie is ook aan die besoekers toegeken. Jade Roelfse (losskakel) slaag met 3 doelskoppe.
Vir Groot-Brakrivier is drieë gedruk deur Matwin Jacobs (flank) en Henlinn Botha (buitesenter). Roshwin Abrahams (heelagter) klits 3 strafdoele oor.
Marshall Mouwers van Evergreens klop Freginald Africa met sy spoed.
Barbarians het sy onoorwonne status behou toe hy Silver Stars op die Rosemoor-sportterrein met 38-20 geklop het.
Vir die besoekers is Wahlon Anthony, Jerome Fillies, Shario Rosenkrantz, Aden Jones en Shadward Fillies (2) oor vir drieë. Ighsaan Petersen slaag met 3 doelskoppe en Deavan Karelse (plaasvervanger-heelagter) klits ook 'n doelskop oor.
Silver Stars se enigste drie is gedruk deur Henwico Stal (plaasvervanger-senter). Henrico Scott (losskakel) slaag met 4 strafdoele en Neillin Scott (heelagter) klits ook 'n strafdoel oor.
Francois Kemp, skitterende flank van Evergreens, jaag die bal met 'n speler van Crusaders wat vervaard probeer walgooi.
Bridgton het op sy tuisveld vyf drieë gedruk in hul volpunte oorwinning van 34-20 oor Maori's.
Vir die wenspan is Anver Venter (buitesenter), Charlston Ewerts (linkervleuel), Hardus Coetzee (flank) en Bradwin Wanies (heelagter, 2) oor vir drieë. Venter slaag ook met 3 doelskoppe en 'n strafdoel.
Maori's se drieë is gedruk deur Enrico Fielies (skrumskakel, 2) en Selwyn Jakobs (regtervleuel). Marshel Frans (losskakel) slaag met 'n doelskop en 'n strafdoel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'