GEORGE RUGBY NUUS - Die stryd om die boonste vier plekke in die SWD Premierliga-rugbykompetisie raak nou feller by die week. Sewe spanne het nog 'n realistiese kans om die uitspeelrondes op Saterdag 18 Augustus te haal.
Jy kan maar jou geldjies daarop wed dat die twee topspanne, Progress (60 punte) en Barbarians (54), se plekke veilig is. Maar die vyf spanne wat sake uitbaklei om die laaste twee plekke sal beroepswedders die koue ritteltit gee, want enigeen kan nog by die agterdeur inglip.
Heidelberg (46) is in die derde plek, maar hul paadjie raak nou al steiler. Die nuweling, wat vriend en vyand vanjaar met hul parmantige vertoning beïndruk het, pak Crusaders (weg), Bridgton (tuis), Progress (tuis) en Evergreens (weg) in hul oorblywende wedstryde. Heidelberg se beste wenkans is waarskynlik die tuiswedstryd teen Bridgton en selfs dit gaan knor. Drie nederlae kan Heidelberg uit die wedloop haal.
'n Kortkop agter Heidelberg, in die vierde plek is Crusaders (44), wat nou die tipe rugby begin speel wat hulle juis so gevaarlik maak.
Saterdagmiddag pak die einste Crusaders vir Heidelberg tuis op Parkdene. Dit kan die naweek se grote wees en die wenner hier sal sy posisie op die puntelys verstewig.
Crusaders se paadjie in sy oorblywende wedstryde is nie te steil nie. Na Heidelberg wag Maori's, dan die omgekrapte Groot-Brakrivier gevolg deur die agteros, Blanco.
Groot-Brak (43) blaas in Crusaders se nek. Bridgton, Evergreens en Crusaders kan sy bekeraspirasies 'n nekslag toedien.
Dis bykans ondenkbaar dat Evergreens, 'n driemalige Premierliga-kampioen, op 39 punte in die sesde plek skuil. Enigeen wat sy klubrugby in die geweste ken, sal weet dis net tydelik en vorentoe sal Blanco, Silver Stars en Heidelberg dit deeglik ontgeld. Groot-Brak weg kan sy grootste uitdaging inhou.
Evergreens is net te goed om nie die uitspeelrondes te haal nie.
Bridgton (35) se pad is met dorings besaai. Groot-Brak (tuis), Heidelberg (weg), Barbarians (weg) en Silver Stars (tuis) wag voor in die wapad en 'n nederlaag sal Oudtshoorn se spogspan kelder. Hy kan dus nie bekostig om in enigeen van sy oorblywende wedstryde te gly nie.
Wie het gedink klubrugby is nie opwindend nie...
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'