GEORGE NUUS - Dis nie aldag dat die Curriebeker-kampioene, die Vrystaat Cheetahs, op Outeniquapark uitdraf nie.
Die span reis al die pad van Bloemfontein om kragte te meet met die SWD Arende op hul tuisveld in 'n SA Beker-wedstryd eerskomende Saterdag, 27 April. Daar behoort 'n besonderse atmosfeer te wees en boonop is dit Vryheidsdag.
Martin de Vos van SWD Rugby, het Dinsdag 23 April gesê die hekke open om 10:00. Die hoofwedstryd begin om 15:00.
Dit word voorafgegaan deur 'n o. 9 minirugby-skoletoernooi. Skole van George, Mosselbaai, Knysna en Oudtshoorn neem deel.
Later speel o. 14 spanne van Langenhoven Gimnasium en George Sekondêr teen mekaar.
Daar is 'n biertun op die B-veld en vir kinders is daar ook vermaak soos springkastele.
Volgens De Vos word 'n opwindende hoofwedstryd verwag. "Beide spanne is lief vir hardlooprugby. Die Cheetahs is 'n baie populêre span."
Die Arende het nou vyf wedstryde in die SA Beker agter die rug. Hulle het drie daarvan verloor en twee gewen. Op die oomblik is hulle sesde op die punteleer. Hulle was Dinsdag hard aan die oefen op Outeniquapark se B-veld ter voorbereiding vir Saterdag se kragmeting.
Zane Kirchner, hoofafrigter van die SWD Arende, het Dinsdag gesê rugby is 'n fisieke sport.
"Met die ondervinding en diepte wat in die Cheetahs se span is, maak dit Saterdag se wedstryd so veel meer belangrik."
Vir die Arende is dit 'n geleentheid om hulself teen die bestes in 'n nasionale kompetisie te meet.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’