GEORGE NUUS - Die vreugdevure het Saterdagmiddag hoog gebrand in die Progress-rugbykamp nadat hulle Swallows op Buffalopark in Oos-Londen met 35-32 geklop het. Rustyd was die tuisspan nog met 17-14 voor.
Progress is die nuwe voorloper in Groep B met nege punte in SARU se Goue Beker-kompetisie.
Progress het in die 50ste minuut 'n groot terugslag gekry toe hul skerpskutter-losskakel, Jade Roelfse, die veld weens harsingskudding moes verlaat. Hy is vervang deur Henry Wolhuter.
Progress het in die laaste 18 minute van die wedstryd, toe hul nog met 14-32 agter was, vurig teruggeveg en drie drieë gedruk.
Progress se stewige loskopstut, Wynand de Necker, het Swallows met sy kraglopies geknak. Hy is as speler van die wedstryd benoem.
In die middelveld was Werner Jacobs (binnesenter), hul groot planmaker en het hy 'n groot rol gespeel in die laaste drie drieë. Hy het self gaan druk.
Wolhuter (plaasvervanger-losskakel) het 'n groot verskil gemaak, goed verdedig en met drie doelskoppe geslaag.
Vincent Moos, hoofafrigter van Progress het na die wedstryd aan die George Herald gesê: "Ek is baie tevrede met my span se terugvegvertoning en drie drieë teen die einde.
"Die span het begin ritme kry danksy die plaasvervangerbank. Ek wil ons getroue ondersteuners, wat lang afstande gereis het om ons te kom ondersteun hier in Oos-Londen, bedank. Ons sien uit na ons wedstryd Saterdagmiddag om 15:00 teen Old Selbornians in Rosemoor."
Puntemakers:
Progress 35 (14): Drieë – Creswin Josephs (buitesenter), Mzoxolo Dyantyi (skrumskakel en kaptein), Solomon Manxodidi (agtsteman, 2), Werner Jacobs (binnesenter). Jade Roelfse (losskakel) slaag met 2 doelskoppe en Henry Wolhuter klits 3 doelskoppe oor.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'