Gallery
TUINROETE RUGBYNUUS - Met 'n klompie oud-Arende in sy span en 'n gedugte plaasvervangerbank sonder weerga in die Suid-Kaap, het Crusaders se ondersteuners hul lippe afgelek vir Saterdag se Superliga A-kragmeting teen Progress in Parkdene en gedink dit gaan maklik wees.
Toe nie.
Die Premierliga-kampioen moes in die laaste tien minute van die wedstryd behoorlik walgooi om 'n verwoede aanslag van Progress af te weer.
Crusaders het uiteindelik met 17-10 gewen, maar sy spelers en die afrigtingspan sal ruiterlik erken dat die telling hulle effe vlei en nie 'n getroue weerspieëling is van die klipharde stryd tussen die twee rugbyvyande nie.
Dat Progress die grootste deel van die wedstryd met net 14 spelers moes klaarkom ná 'n rooikaart, moet vir Crusaders rede tot kommer wees. Dié terugslag het Progress op die agtervoet geplaas, maar hulle het onmiddellik teruggeslaan met 'n drie onder die pale. Dit het die tuisspan geruk.
Fotogalery: Crusaders het uiteindelik gewen
Crusaders se voorspelers het oorheers, veral in die skrums en vaste spel. Hul lynstaanwerk het gelol, maar andersins, het Crusaders gewys dat hy waarskynlik weer die grootste aanspraakmaker op die Superliga-kroon gaan wees.
Progress se agterspelers was puik op die aanval en verdediging. Dis nog vroeg in die seisoen, maar Rosemoor se Blouspan gaan vanjaar 'n paar spanne omklink.
Brianton Booysen beur vorentoe met die bal met Crusaders se Christo du Plessis wat hom om die middellyf gryp. Aiden Joseph (links), Ethan Williajms en Wayne Kahn (regs) hou die petalje fyn dop.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'