Gallery Video
GEORGE RUGBYNUUS EN VIDEO - As die groen gras van Outeniquapark kon praat, sou dit vertel van 'n klipharde finaal die afgelope Saterdag 8 Oktober in die SWD-klubkompetisie se Super Liga A toe Crusaders vir Heidelberg met 25 - 13 geklop het.
Verskeie ander wedstryde het ook plaasgevind, maar die hoofdis was die wedstryd tussen Crusaders en Heidelberg.
Sommer van die begin af was dit duidelik dat beide spanne gekom het om te wen en geen genade is betoon nie. Die wedstryd is in baie warm toestande teen 'n vinnige tempo gespeel. Die spanning was sigbaar en by tye het die humeure opgevlam.
Die duisende toeskouers is getrakteer op goeie rugby en ongelukkig kon daar net een wenner wees. Die spelers moes uithaal en wys. Laat in die eerste helfte was die telling nog 16 - 3, maar Heidelberg het gewys hulle het ander planne. Hulle het 'n drie gaan druk wat die rustydtelling op 16 -10 te staan gebring het.
Tot in hierdie stadium kon die wedstryd nog na enige kant gaan. Beide spanne het verwoed in die tweede helfte gespeel, maar Crusaders het net te veel skietgoed gehad.
Crusaders en Heidelberg sak in 'n skrum.
Kevin van Wyk, president van Crusaders, het Maandag gesê hy is in die geheel tevrede met die span se vertoning, maar hulle kon nog beter gedoen het. Die span het in die tweede helfte die pas versnel en beheer begin oorneem van die wedstryd. "Ons verdediging was rotsvas."
Die klub gaan nie op sy louere rus nie.
"Ons begin reeds in November met voorseisoen voorbereidings."
Altesaam 90% van die spelers wat in Saterdag se wedstryd betrokke was, bly by die klub en sal weer aanstaande seisoen beskikbaar wees.
Fernell Pretorius, kaptein van Heidelberg, het gesê dit was die eerste keer dat hulle in so 'n finaal gespeel het. "Dit was 'n ander tipe druk. Ons het geleer daaruit en kyk vorentoe. Ons het foute gemaak. Hulle is 'n baie ervare span. Op die dag was hulle beter en hulle het hul kanse beter benut. Baie geluk aan hulle. Ons sal volgende jaar weer probeer en in 2023 sal ons 'n sterker span wees."
FOTOGALERY: Crusaders se oorwinning
Ben Brinkhuis, waarnemende president van SWD-rugby, het gesê die geleentheid het baie goed afgeloop en was goed georganiseerd.
"Vir die eerste keer in baie jare was Outeniquapark uitverkoop vir 'n klubeindstryd. Dit wys mense is honger vir klubrugby. Dis 'n goeie advertensie vir klubrugby in die SWD en 'n goeie toonbeeld van rugby in die streek."
VIDEO: Ons volkslied by klub finaal
Brendan Adams, burgemeesterskomiteelid vir sport van die George-stadsraad, het ook die geleentheid as 'n groot sukses beskryf en bygevoeg dat die toeskouers het hulself goed gedra het. Hy het sy dankbaarheid teenoor Grant Riddles, burgemeester van Hessequa uitgespreek vir sy bydrae tot die sportgemeenskap van Hessequa. Riddles het ook die geleentheid bygewoon.
Adams het in ligte trant bygevoeg: "Hulle moet maar weer probeer aanstaande jaar."
Ons is die kampioene - Crusaders kort nadat hulle Saterdag as die 2022-kampioene gekroon is. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'