GEORGE NUUS - Twee oudinwoners van George, wat op die oomblik besig is om groot naam te maak op die rugbyvelde van Europa, CJ Stander en Duhan van der Merwe, staan 'n buitengewone goeie kans om aanstaande jaar die Britse en Ierse Leeus se toerspan na Suid-Afrika te haal.
Van der Merwe het verlede Vrydagaand, 23 Oktober, sy buiging vir Skotland teen Georgië gemaak en boonop 'n drie gedruk. Stander, wat al 'n staatmaker in die Ierse span is, het Saterdag teen Italië uitgedraf en ook 'n drie gedruk.
Stander het reeds in 2017 die eerste keer die Britse en Ierse Leeus-span gehaal toe hulle in Nieu-Seeland gaan toer het.
Beide Stander (30) en Van der Merwe (25) het as jong spelers op die rugbyvelde van George gespeel en was ook in die SA skolespan. Dinge kan aanstaande jaar interessant raak as beide die Britse en Ierse Leeus se span haal, want dan kan hulle moontlik teen Warrick Gelant van die Springbokke speel. Gelant het ook 'n deel van sy skoolloopbaan in George deurgebring.
Van der Merwe het in 2013 sy skoolloopbaan aan Hoërskool Outeniqua voltooi en het saam met Gelant vir onder meer die skool se eerste span uitgedraf en in 2012 en 2013 het hulle saam vir die SA skolespan gespeel.
Wat sê Duhan se familie
Duhan se pa, Alhan van der Merwe, het Dinsdag gesê die familie is baie trots op Duhan. Sy besluit om in Skotland te gaan speel was 'n loopbaan besluit. Oor Duhan se kanse om vir die Britse en Ierse Leeus gekies te word het hy gesê: "Dit is nog vroeë dae. Ons sal maar wag en sien. Ons hou styf duim vas."
Volgens hom is hy gelukkig in Skotland en bou sy rugbyloopbaan daar.
Simoné het gesê sy is baie trots op haar tweelingboetie. "Duhan is 'n baie gedetermineerde persoon. Dit was al so van kleins af. As hy iets wou gedoen het, dan het hy dit gedoen."
Sy is 'n Springbok-ondersteuner en sal een bly. As die Springbokke en Skotland weer teen mekaar speel gaan sy egter 'n "draadsitter" wees.
Duhan se ma, Dulene het gesê hulle is baie trots op hom. Daar was groot opgewondenheid toe hy laat weet hy is in die span.
CJ se pa, Jannie het gesê sy seun sal baie graag die Britse en Ierse Leeus se span na Suid-Afrika wil haal. "CJ werk daarvoor. As CJ in die span is, sal ek beslis na van die wedstryde gaan kyk."
Sporttalent loop diep in die familie
Van der Merwe se ouer broer, Akker (jr.) het al vir die Springbokke gespeel. Sy tweelingsussie, Simoné het op skool provinsiale krieket en hokkie gespeel. Sy oupa wyle, Akker (sr.) van der Merwe het ook destyds vir die SWD uitgedraf en byna 30 jaar provinsiale rolbal gespeel. Sy pa, Alhan en ma, Dulene het ook beide provinsiale klere in verskeie sportsoorte. Dulene se pa, Nico Marx van Mosselbaai was op sy dag ook 'n goeie rugbyspeler en atleet.
Rede vir Duhan se sukses
Piet Cloete, adjunkhoof sport van Hoërskool Outeniqua het 'n groot invloed op skool op Van der Merwe se rugbyloopbaan gehad. Hy het hom afgerig van 2009 tot 2103. Van der Merwe het aanvanklik vir die skool o.14 B-span uitgedraf. Later het hy egter sy staal op die rugbyveld gewys. Volgens Cloete het hy aanvanklik nie gedink Van der Merwe sou so goed doen nie. Later in gr.11 het hy gesien Van der Merwe beskik oor bo-gemiddelde talent.
Sy sukses kan aan verskeie faktore toeskryf word soos onder meer goeie gene. "Kyk maar net na sy broer Akker."
Terwyl hy op skool was het ook hy goeie spelers om hom gehad soos Warrick Gelant en Dewald Human.
Natuurlik sou hy wou gehad het dat Van der Merwe vir die Springbokke speel, "Maar ek gun hom sy loopbaan."
Alhan van der Merwe, pa van Duhan van der Merwe. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'