GEORGE NUUS - "Ek het selfs Sondag kerk gemis om na die wedstryd te kon kyk," het Jannie Stander, bekende boer van George en pa van CJ Stander, aan die George Herald vertel.
CJ wat oorspronklik van George kom, het die afgelope Sondag vir die Ierse rugbyspan teen Skotland in Japan in die Wêreldbekertoernooi opgedraf. Hy het 'n reuse-aandeel gehad in Ierland se oorwinning van 27-3 oor Skotland in Jokohama. Boonop is hy as speler van die wedstryd aangewys.
'n Trotse Jannie het gesê met CJ se deelname aan die toernooi het sy seun nog 'n ideal verwesenlik. Jannie het Sondagoggend voor die wedstryd telefonies met CJ in Japan gesels.
"CJ het toe vir my gesê daar is nou geen omdraaikans meer nie." Jannie en CJ se ma, Amanda, het Sondagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) na die wedstryd op televisie gekyk. "Ek het seker maar bietjie sonde gedoen deur nie in die kerk te wees nie," het hy tong in die kies gesê. "Ek sou die wedstryd vir geen geld mis nie. Uiteindelik was dit die moeite werd."
Volgens Jannie is hy baie trots op CJ en die Ierse span. Wat CJ se prestasie so besonders maak, is dat hy in 2016 sy eerste wedstryd vir Ierland ook teen Skotland gespeel het en destyds ook die speler van die wedstryd was.
Hy het Sondag na die wedstryd weer met CJ gesels. "CJ is baie gelukkig en tevrede. Natuurlik is daar op die horison die moontlikheid dat Ierland en die Springbokke dalk in die kwarteindronde teen mekaar gaan speel. CJ dink nog nie so ver vooruit nie. Hy vat dit wedstryd vir wedstryd."
Jannie het benadruk dat hy afgelope Saterdag vir die Springbokke geskree het toe hulle kragte teen die All Blacks gemeet het.
Maar oor een ding is daar nou reeds geen twyfel nie: "As die Springbokke teen Ierland sou speel, skree ek vir Ierland."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'