Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Ben Brinkhuis (58) is Saterdag 26 November tydens die SWD Rugby Unie se algemene jaarvergadering met 'n oorweldigende meerderheid tot president van die unie verkies.
Brinkhuis, wat sedert Mei vanjaar in die pos waargeneem het, het 49 stemme gekry en sy teenstander, Kevin van Wyk 16 stemme.
Hy het die leisels by Hennie Baartman, die vorige president, oorgeneem nadat Baartman op die uitvoerende komitee van die Suid-Afrikaanse rugbyunie, (Saru) verkies is.
Kort na sy verkiesing Saterdag, het Brinkhuis sy familie bedank vir hulle ondersteuning. Hy het ook Van Wyk bedank dat hulle 'n verkiesingstryd met die nodige respek kon voer.
Hy beskryf die uitslag as 'n mandaat wat die klubs vir hom gee om die unie vorentoe te neem en het benadruk hy glo aan deelnemende gesperkvoering.
Brinkhuis het Maandag gesê die verkiesing is nou verby. "Dit was 'n demokratiese proses en ek is vir vier jaar verkies. Ek wil 'n president vir almal in SWD-rugby wees. Daar is geen kwade gevoelens teen enigiemand nie."
VIDEO: Ben Brinkhuis oor die pad vorentoe
Daar is uitdagings en die vernaamste is geld. Hy gaan hom beywer om investering en borge vir die unie te kry. Hy wil uitreik na die sake- en breë gemeenskap. Brinkhuis is van voorneme om met die sakekamers en gemeenskapsleiers kontak te maak, hy gaan hul hulp vra en hy wil ook die unie beter bemark.
Hy meen rugby is belangrik en wil deur middel van ontwikkeling gemeenskappe verbeter, veral onder die jeug. "Ek wil seker maak dat ons kinders nie by misdaad betrokke raak nie. Rugby kan help met opheffing. Dit kan help om die kinders van die straat te kry."
Om president van die unie te word, is 'n droom wat waar geword het. Hy gaan sy eie stempel afdruk en toesien dat SWD se skip op koers bly. "Ek is bloot leier van 'n span en 'n kaptein van 'n span."
Ben Brinkhuis Maandag by die Outeniquastadion. Foto: Eugene Gunning
Hy sal graag wil sien dat die SWD Arende in 2024 kwalifiseer vir die Curriebekerreeks in 2025.
Daar word steeds gewerk aan die vestiging van 'n rugbyakademie en 'n aankondiging sal later gedoen word.
Brinkhuis voel sterk oor die behoud van plaaslike rugbytalent. 'n Afdeling om plaaslike rugbytalent te identifiseer en in die gebied te hou, is een van die dinge wat Brinkhuis gaan vestig. "Ons loop oor van talent."
Die plan is om in die onderskeie streke 'n verteenwoordiger te hê om plaaslike talent te identfiseer. Klubs is belangrik en die talentidentifiserig sal by klubs en skole plaasvind.
Ben Brinkhuis kort na sy verkiesing. Foto: Eugene Gunning
Wie is Ben Brinkhuis?
Tot voor hy waargeneem het as president, was hy die senior vise-president. Dit is algemeen bekend dat Brinkhuis 'n sterk klubman is. Hy kom self uit 'n sterk klub agtergrond en was in 1989 die stigter van die Eagles Stars in Sedgefield.
Later het hy voorsitter van die kusstreek geword en in 2010 senior vise-president van SWD-rugby. Hy is 'n gesinsman, getroud en 'n pa van drie dogters.
Die koek wat Ben Brinkhuis se dogters vir hom laat bak het om hom geluk te wens.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'