OUDTSHOORN NUUS - Bridgton-rugbyklub het onlangs sy eerste oorwinning van die seisoen behaal toe hy Blanco van George in die SWD Super A-liga met 28 - 22 geklop het. Die wedstryd is by Bridgton-sportterrein (Die Plate) gespeel.
Hierdie oorwinning sal die maroentruie sommer hope selfvertroue gee omdat die einste Blanco vir Crusaders ('n voormalige kampioen) pakgegee het.
Soos verwag was daar in die eerste helfte bitter min te kies tussen die twee spanne en het die spanne mekaar behoorlik opgekeil. Bridgton het sy man goed gestaan in die vaste fasette en sy ondersteunende spel by veral die afbreekpunte het Blanco hoofbrekens besorg. Die rustydtelling was 18 - 15 in die tuisspan se guns.
Bridgton se kaptein, Anver Venter raap die bal uit die lug.
In die tweede helfte het Bridgton toenemend na 'n hoër rat oorgeskakel soos vars bene van die plaasvervangerbank gekom het.
Jason Abrahams, voorsitter van Bridgton-rugbyklub, het die span na die wedstryd geloof vir hul dissipline wat uiteindelik die deurslag gegee het.
"Ek is baie trots op die manne juis omdat ons heelwat uitdagings die hoof moes bied in aanloop tot die liga.
"Ons eerste wedstryd teen Jaguars het ons wel verloor, maar vandag het ons karakter getoon om die wa deur die drif te trek.
"Al die spelers het hul hande opgesteek, maar daar is tog 'n paar spelers wat 'n ekstra pluimpie verdien soos ons aanwins, Dehovan Johannes (heelagter), wie se algemene spel beïndruk het.
Wayne Julies (heel links) se verdeding was rotsvas.
"So ook ons ervare werkesel, Wayne Julies en die agterste driehoek wat Willem Jaftha en Charlie Ewerts insluit wat uitstekend op aanval en verdediging was. Ek is oor die algemeen tevrede met ons spel, maar daar is tog 'n paar afdelings waar ons kan verbeter. Vir nou is die oorwinning net die nodige doepa wat die span nodig gehad het vir 'n tawwe wegwedstryd op
6 April teen Crusaders wat ek glo ons kan wen.
"Tans vat ons dit week vir week, maar ons doelwit bly onveranderd, om as wenners uit te tree uit vanjaar se liga," het Abrahams gesê.
Vir Bridgton het Johannes, Francois Gelderbloem en Tinsley Stuurman elk agter die pale gaan kuier. Johannes was in die kol met twee doelskoppe en drie strafdoele.
'n Speler van Blanco word omsingel deur verdedigers.
So het die res van Bridgton se spanne gevaar:
Bridgton C-span verloor teen Blanco 14-20.
Drieë: Jayden-Lee Moos, en Christopher Blaauw elk een drie. Jaden Lee Moos slaag met een doelskop. Moustapha Esau is suksesvol met een strafskop.
Bridgton B-span klop Blanco 47-10
Drieë: Adrian Booysen (2). Bradwin Wanies, Octavio Goliath, Ruan Jordaan, Kaleb Olieslager, Mervin Langeveldt druk elkeen een drie. Booysen klits drie doelskoppe oor. Darren Coerecius is suksesvol met doelskoppe, met Camdon Amerika wat een doelskop verdoel het.
Harlequins het die afgelope naweek sy tweede loesing op die lyf geloop toe hy 22 - 28 teen Evergreens van Pacaltsdorp vasgeval het.
Die rustydtelling was 12 - 3 in Harlequins se guns.