RUGBY NUUS - Groot-Brakrivier se drome van Goue Beker-glorie het tot 'n einde gekom nadat die Northam Rhinos soos 'n gety oor hulle gespoel het.
Brak kon nie die magtige aanslag van die Rhinos, wat die doellyn tien keer oorgesteek het, keer nie. Brak het twee drieë gedruk. Die eindtelling van 60-12 het 'n bitter terugtog na die Tuinroete verseker.
Die hoofafrigter van Rhinos, Bevin Fortuin, wat diep spore in Blanco getrap het en self deur Groot-Brakrivier se afrigter, Johan Lerm, afgerig is by die SWD Arende, sê dit was nie 'n maklike wedstryd nie.
"Dit is altyd lekker om teen Groot-Brakrivier te speel en ek het al 'n paar keer teen hulle gespeel as afrigter van Blanco; die verskil was maar net, nou is ek met 'n ander span in 'n ander provinsie."
Fortuin vertel hulle het geweet dit gaan 'n harde wedstryd wees met Lerm aan die stuur en sê veral die eerste twintig minute en die tweede helfte se eerste tien minute was taai.
"Groot-Brak het nooit gaan lê nie, maar ons het geweet as ons by ons plan bly, gaan ons die oorhand in die wedstryd kry," sê Fortuin. Hy sê die wedstryd is in goeie gees gespeel en na die tyd het die manne lekker saam gekuier.
Ten spyte van die verloor is Groot-Brakrivier se ondersteuners vol lof vir hul span se optrede, nie net in die Goue Beker-reeks nie, maar dwarsdeur die seisoen.
Hulle was die naaswenners in die Saldanha Super 8 Paastoernooi, hulle het hul titel suksesvol in die SWD Superliga A toernooi verdedig en tot die kwarteindronde van die Goue Beker-reeks deurgedring.
"Wees verseker, ons harsteer is net so diep soos julle s'n na die verloor teen Northam Rhinos," sê Imran Wesso, ondervoorsitter van Groot-Brakrivier, op 'n Facebook-plasing.
Groot-Brakrivier se spelers en afrigters voor hulle vlug na Northam om teen the Rhinos in die Goue Beker-reeks te speel.
"Ons berei nie elke week voor net om op wedstryddag te verloor nie. Ons vra opreg om verskoning dat ons julle in die steek gelaat het by hierdie toernooi. Ons doel was nie om net die kwarteindstryd te bereik nie en ons voel leeg en die hartseer oorweldig ons. Aan die einde van die dag was al ons pogings net nie goed genoeg nie. Baie dankie aan ieder en elk vir die ondersteuning deur die jaar," skryf Wesso.
In reaksie hierop het ondersteuners egter vir Brak geloof vir 'n uitstekende seisoen.
"Julle was inspirerend vir 'n nasie van ondersteuners," skryf Andre Wesso.
"Selfs al was die uitslag nie wat ons almal verwag het nie, is ons uiters trots op wat julle hierdie rugbyseisoen bereik het," skryf Elizma de Vos.
"Julle het ons nie in die steek gelaat nie. Ons het julle moeite gesien en ons is trots op julle," skryf Ilse Nkopane.
"Die spelers is ons dorp se ambassadeurs en dankie dat hulle ons week na week kon vermaak het met sjampanje rugby wat elke pennie werd was," skryf Bennet Gertse.
"Net die feit dat julle dit so ver gemaak het is massiewe vordering al reeds. Julle het Brak weer nuwe lewenslus kom gee. Ons was, is en bly steeds super trots!" skryf Renata de Koker.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’