RUGBY NUUS - Student en leermeester meet die naweek kragte wanneer Bevin Fortuin se Northam Rhinos gasheer speel vir Johan Lerm se Groot-Brakrivier in die kwarteindstryd van die Goue Beker-reeks.
Die voormalige Springbok, Bevin Fortuin, het diep spore in Blanco getrap en Lerm het hom afgerig toe hy vir die SWD Arende gespeel het.
"Dit gaan net meer speserye op die braaivleis wees en die slimste afrigter gaan die breedste glimlag.
"Lerm en Fortuin ken mekaar goed, maar leer die leermeester altyd die student alles? Wees verseker dit gaan oorlog wees en ek is seker beide afrigters sien uit na die kragmeting.
"Maar na die wedstryd is ons almal weer pêlle," sê Imran Wesso, ondervoorsitter van Groot-Brakrivier.
Oorwinning teen Crusaders
Brak is goed op dreef in hul eerste deelname aan die Goue Beker-reeks na hulle vir Robertson met 48 - 27 in 'n tuiswedstryd geklop het gevolg deur 'n 21 - 15 oorwinning oor Capital Legacy Crusaders in Durban.
"Dit is ons eerste insluiting in die toernooi en tot dusver is ons dankbaar en geseënd vir die goeie resultate," sê Wesso.
Die span is soos helde verwelkom na hul oorwinning oor Crusaders met talle ondersteuners wat die span ingewag het. "Ons is ewig dankbaar vir die mense van Groot-Brakrivier en die omliggende gebiede.
"Die beste van alles is dat die bestuur dit nie gereël het nie, maar die gemeenskapslede en ondersteuners het self besluit om ons terug te verwelkom.
"Ek beklemtoon dit weer, ons benodig hulle meer as wat hulle dalk besef. Ons het soos Siya Kolisi en sy Bokke gevoel na 'n wêreldbekereindstryd," sê Wesso met trots.
Oor hul wedstryd teen Crusaders sê Wesso dit is die spelers se bereidwilligheid om soos soldate vir mekaar te sterf wat hulle help om deur te druk wanneer die wedstryd taai is.
"Die wedstryd het baie goed begin en ons het eerste bloed geruik. Die voorspelerpak het 'n goeie fondasie gelê en man vir man was hulle die beter agttal op die veld. Ons goeie verdediging moet ook geprys word vir die oorwinning en ons is tevrede met die resultaat na 'n lekker fisiese wedstryd," sê Wesso.
Duke Jantjies, Marquin Smart en Cheslyn Gelderbloem het elkeen 'n drie gedruk en Braam Abrahams het al drie drieë verdoel.
Die plan teen Rhinos
"Dankie tog, hierdie keer vlieg ons op noorde toe," sê Wesso oor die meer as
1 300 km reis wat wag na Northam, Limpopo. Dinsdag het hulle 'n videosessie gehad om te kyk waar hulle kan verbeter en om seker te maak hul patrone en vorm is nog in plek.
Aangesien hulle nie ry nie kon hulle Woensdag 'n oefensessie inwerk om patrone te oefen wat hulle teen Rhinos wil gebruik.
Rhinos is tans in die eerste plek op die Goue Beker-reeks se puntestand na hulle massiewe tellings in hul vorige wedstryde aangeteken het.
In hul eerste wedstryd het hulle Bloemfontein Collegians met 130 - 7 vertrap en daarna vir Pirates met 55 - 19 geklop.
Dus het hulle 185 punte vir en 26 punte teen hulle terwyl Groot-Brakrivier 69 punte vir en 42 punte teen hulle het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’