Gallery
RUGBYNUUS - Soos 'n ou Listerenjn op 'n bibberdag het die Riversdal Blues Saterdagmiddag 'n rukkie geneem om behoorlik aan die gang te kom.
Dit het die besoekende Happy Hearts se harte sommer warm laat klop, want toe kon hulle soos vlakhase vanuit elke moontlike hoek op die veld aanval en die tuisspan se verdedigers laat bontstaan.
Maar die Blues se verdediging was rotsvas en toe hulle na sowat 'n kwartier vlamvat, toe brul daai blou Listerenjin en hardloop hulle die arme Happy Hearts kaduks en ryg die drieë in.
'n Wentelling van 32 - 19 vertel nie heeltemal die volle verhaal van die Blues se oorheersing nie.
Happy Hearts was minder hêppie met die uitgelate Blues-ondersteuners wat vol kwinkslae was en natuurlik in ekstase.
Daar was 'n haakplek of twee, soos in die lynstane waar die Blues sonder sy twee beste lynstaanspringers - albei beseer - gesukkel het. Dit was te wagte en sal hulle nie juis slapelose nagte besorg nie.
FOTOGALERY: Blues se enjin vuur op alle silinders
Wat wel verblydend is, was die Blues se verdediging. Dit verbeter nou met elke wedstryd en is waarskynlik die span se grootste bate in sy arsenaal.
En niemand het hier beter gevaar in die agterste linie as sy bossiekop heelagter Enrique Arendse nie. Die man het nie 'n bang haar op sy kop nie, was altyd in posisie, vermy nie kontak nie en onder die hoë bal was hy so koel soos 'n komkommer. Ek boonop kán hy verdedig.
Brinkley Bezuidenhout en sy slotmaat, Johnny Elbrink en Bennie Jantjies (agtsteman) was eweneens op hul stukke en het uitgestaan onder die voorspelers.
Jaco Arendse, senter en kaptein, was sy ou betroubare self en het 'n mooi onderskepdrie onder die pale gedruk. Op losskakel het Michael Hendricks jr. 'n afgeronde vertoning gelewer.
Jaco Arendse, kaptein en senter van die Riversdal Blues, op pad na sy drie onder die pale nadat hy die bal onderskep het.
"Maar ons kan steeds verbeter," sê afrigter, Randall van der Heever.
"Ten minste het ons die gewoonte afgeskud om inhaalrugby te speel. Ons het ook ons kanse beter gebruik en gaan drieë druk. Ons moet net hierop voortbou."
Die betroubare Michael Hendricks junior het weereens 'n afgeronde vertoning gelewer.
Neil Jafta duik in die hoekie oor vir sy drie.
Die Blues se bossiekop heelagter, Enrique Arendse (regs), was 'n rots in die laaste vesting en het die oog gevang met sy vreeslose verdediging.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'