In 'n media-onderhoud het Kirchner gesê dis vir hom 'n groot eer om in diens van sy land opgeroep te word. Indien hy gekies word om op te draf, sal hy sy allerbeste in die uitspeelstryde van die Wêreldbeker-eindtoernooi gee.
Sy trotse ouers, Leslie en Jane Kirchner, was nog die ene vreugde toe die George Herald hierdie week by hulle gaan inloer het.
Op 'n vraag of die rugbyveld in dieselfde straat 'n rol gespeel het in sy balvaardighede, het pa Leslie tong-in-die-kies gesê dat dit eerder die rivierklippe in die Malgasrivier is wat die krediet moet kry.
"Die kinders het gereeld met die ronde klippe in die rivier gespeel en vang moet jy váng as iemand 'n groot klip in jou rigting gooi! Rugbyballe het heelwat later eers gekom," het hy gesê.
Ma Jane is weer baie dankbaar teenoor die Laerskool Kretzenshoop en Hoërskool PW Botha vir die rol wat hulle in Zane se vormingsjare gespeel het.
"Ek is ook baie dank verskuldig teenoor ons gemeenskap wat hom altyd aangemoedig het om hoër hoogtes te bereik."
Kretzenshoop se eerste Springbok-heelagter, voormalige kaptein van die SWD Arende en huidige stadsraadslid Bevin Fortuin, het nie veel met rivierklippe gespeel nie, maar daagliks by die rugbyveld 'n draai gaan maak.
Hy het Zane se ouers saam met die George Herald besoek. Vandag is hy ewe trots op sy opvolger en het hom ook alle sterkte in Nieu-Seeland toegewens.
.jpg)
Die oud-Springbok Bevin Fortuin (links) wens Leslie Kirchner geluk terwyl trotse ma Jane 'n rugbyfoto van haar seun vashou. Foto: Jannie Meyer.
ARTIKEL: JANNIE MEYER, GEORGE HERALD-JOERNALIS