GEORGE NUUS - As hy by die Cheetah-agterlyn ingeglip het, was daar gewoonlik vuurwerke. Toe is hy opgekommandeer vir die Springbokke op heelagter.
Daarna was hy vlugtig DA-raadslid van Blanco voor hy daar weggeglip het om sy hand aan rugbyafrigting te waag. Eers in George, onder andere as hoofafrigter van die SWD Arende, en toe in die Noorde by die Blou Bulle en die Varsitybeker-reeks.
En nou is Bevin Fortuin, 'n boorling van Blanco, terug in George om by rugbyontwikkeling betrokke te raak. Dis 'n braak veld wat in dié stadium redelik lukraak toegepas word
Hy het pas sy gewig by die ChildActive-sportakademie ingegooi met die mandaat om rugby van gr. R tot gr.12 te ontwikkel. Hy sal dus inskakel by ChildActive se afrigtingskorps van 18 wat ook leerders in krieket, tennis en hokkie onder hande neem.
Fortuin het reeds 'n vlak 3-afrigting suksesvol voltooi wat hom in staat stel om op internasionale vlak af te rig. Maar dis iets wat nog ver in die toekoms lê, sê hy.
"Ek het 'n passie vir rugby en wil graag iets terugploeg in dié sport wat soveel vir my loopbaan beteken en deure vir my oopgemaak het. Die ChildActive-akademie bied vir my 'n ideale platform om my ervaring en talente in die jeug te belê. Hulle is tog die toekoms van sport en om op dié vlak by hulle ontwikkeling betrokke te raak, is 'n groot voorreg.
"Ons wil die basiese beginsels van rugby by die spelers indril sodat hulle by hul onderskeie skole met die nodige gereedskap toegerus is om nog beter te presteer en verder uit te styg. Ons hoofdoel is dus om 'n beter afgeronde rugbyspeler vir die skole terug te gee."
Fortuin sê die rugbyafrigting gaan by Van Kervel aangebied word. "Maar afrigting kan ook by ander skole aangebied word mits daar minstens 20 belangstellendes is. Ons wil die nuutste ontwikkelinge in skolerugby aan hulle oordra, hulle skerper maak en beter toerus vir die toekoms. Kortom; ons wil 'n paar Springbokke by ChildActive kweek."
Hy voer 'n paar groot planne in die mou, soos om die Bulls se hoofafrigter, John Mitchell, na George te bring om met die rugbyspelers te werk. "John stel beslis belang."
En rugby gaan deel uitmaak van ChildActive-akademie se gewilde jaarlikse September-sporttoernooi wat honderde leerders na George lok.
Hy is nou oorgehaal om met George se opkomende talent te ploeg, sê Fortuin. Sy ontwikkelingshandskoene is al tot teenaan sy elmboë opgetrek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'