OPVOLG - Die Superliga A-wedstryd tussen Progress en Groot-Brakrivier sal wel vandag voortgaan. Hulle sal 19:00 vanaand (9 Mei) op Outeniquapark kragte meet. Beide klubs se C- en B-spanne sal ook vanoggend op Outeniquapark speel.
Vorige artikel:
RUGBY NUUS - Die Dotsure SWD Arende staan voor ’n bepalende naweek in die SA Bekerreeks wanneer hulle Saterdag 9 Mei op Outeniquapark teen die Luiperds te staan kom, ’n wedstryd wat groot implikasies vir die Curriebeker se Premier-afdeling se kwalifisering inhou.
Met net die topvier spanne wat deurdring, is daar geen ruimte vir foute nie.
Die Arende het hulself vanjaar as een van die groot verrassingspanne gevestig onder leiding van voormalige Springbok-afrigter, Heyneke Meyer.
Ná sterk oorwinnings oor onder meer Boland, OP en die Valke, bevind SWD hul steeds stewig in die wedloop vir ’n plek in die halfeindstryd.
Hoewel die span verlede naweek vasgeval het teen die onoorwonne Griekwas, bied die ontmoeting teen die Luiperds ’n ideale geleentheid om weer momentum op te bou voor die uitspeelrondes.
Die Luiperds sukkel deurentyd om konsekwentheid te vind en lê tans in die onderste helfte van die punteleer, nadat hulle reeds groot nederlae teen onder andere die Pumas en Griekwas moes verduur.
’n Groot tuisskare kan die Arende net versterk en 'n lekker hupstoot gee. Maak seker jy daag op!
Vir die Arende gaan dit egter nie net oor ’n oorwinning nie, maar moontlik ook oor ’n bonuspunt. Met spanne soos die Cheetahs en Boland steeds in die jaagtog vir ’n topvierposisie, kan elke punt deurslaggewend wees in die eindronde van die kompetisie.
Die wedstryd op Outeniquapark beloof dus om veel meer as net ’n gewone ligawedstryd te wees. Vir SWD is dit nog ’n kans om hul merkwaardige 2026-veldtog voort te sit en hul plek onder Suid-Afrika se top provinsiale spanne te bevestig.
Nog wedstryde op Outeniquapark:
B-veld:
10:00: George C teen Evergreens C (vriendskaplike wedstryd)
11:15: Progress C teen Groot-Brak C
12:30: Progress B teen Groot-Brak B
14:00 George B teen Albertinia Rangers B
A-Veld
17:15: George A teen Albertinia Rangers A
19:00: Progress A teen Groot-Brak A
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’