OUDTSHOORN - Die SWD Arende het Saterdag op Oudtshoorn in ‘n puntelose tweede helfte teen ‘n sterk wind saamge-staan om die Sharks XV-tal 16-10 te klop vir hul eerste oorwinning van die seisoen.
"Dit was slow en ugly, maar ons het vasgebyt, kort gespeel, die bal by ons voorspelers gehou en sover moontlik buite bereik van dié van die Natallers," sê ‘n trotse afrigter Johann Lerm.
Al die punte is in die eerste helfte voor ‘n passievolle Bridgeton-skare aangeteken en Lerm skryf die oorwinning aan die samehorigheid van die span toe. Hulle het deur die moeilike tye van die afgelope klompie maande ‘n sterk kameraderie ontwikkel.
"Die manne staan saam onder die sterk leierskap van Bevin Fortuin en sy adjudant, Wayne Bennett."
Die speler van die wedstryd was die stut, Brood van der Westhuizen wat sy hart uitgespeel het.
Hy en Lerm loop al sedert 2005 by die Spears ‘n pad saam wat ‘n draai deur Hamiltons na die Arende geloop het.
"Hy was Saterdag uitstekend en dit is ook goed vir die spangees," sê Lerm.
Die afrigter is ook ingenome met die spel van die plaaslike ongekontrakteerde spelers soos Eric Zana en Ronald Bratz.
Die Arende se verdediging teen die Sharks was puik.
Bennett, wat verlede week die drie gedruk het wat die Arende so hittete teen die Boland laat wen het, het Saterdag die eerste van twee drieë gedruk. Vleuel Baldwin McBean het net voor rustyd ook gaan druk na skitterende balbeheer en -hantering deur voor- en agterspelers.
Behalwe die twee drieë het Jandré Blom en Eric Zana ook met strafdoele vir die Arende geslaag.
Die Sharks XV se drieë is deur Jerome Pretorius (2) gedruk.
Foto: Christo Vermaak