RUGBY NUUS - Vir alle praktiese doeleindes is dit neusie verby vir die rugbyspan van die Barbarians om in aanmerking te kom vir die uitspeelrondes van die Suidwestelike Distrikte (SWD) se A-liga in die klubkompetisie. Groot-Brakrivier het op sy tuisveld, beter bekend as "The House of Pain", die Babaas 'n rugbyles geleer deur die besoekers met 49-10 af te ransel.
Ná 'n opflikkering die vorige week teen George RVK op D'Almeida Park, het 'n duidelike fikser en beter afgeronde span van die Brakkies die Babaas totaal oordonder in elke faset van die wedstryd en was die tuisspan met die draaislag reeds met 28-0 voor.
Van die begin was die Barbarians in so 'n mate onder druk dat hulle selfs met twee geel kaarte gestraf is vir ongeoorloofde spel.
Brakkies se agterlyn het die ruimte van om van die voorvoet te speel danksy die oorheersing by die afbreekpunte en ook in die vaste fasette, ruim benut.
Die feit dat die tuisspan met lemoentyd reeds vier keer die Babaas onder hul doelpale laat vergader het, het die groot tuisskare van pure genot laat kraai van plesier.
In die tweede helfte het dinge nie veel beter verloop nie en die gebrek aan samespel van die besoekers is duidelik deur die Brakkies uitgebuit. Groot Brak het as 'n eenheid op die aanval én verdediging beïndruk en was meëdoenloos om die Babaas geen beweegruimte toe te laat nie.
Onverklaarbaar egter, is die vraag wat gevra word waarom 'n paar uitblinkers in die wedstryd die vorige week teen George RVK teen die Brakkies nie die span gehaal het nie. Met slegs een vyfpunter gedurende die hele wedstryd, was daar ook 'n ernstige tekort aan deurdringingsvermoë.
Dit is egter geen verskoning nie. Groot Brak het groot karakter getoon en 'n duidelike waarskuwing aan die res van sy teenstanders in die oorblywende wedstryde in die tweede ronde van dié liga gerig.
Die Babaas se naasbestes beklee steeds die voorste posisie op die punteleer ondanks die gelykop-uitslag met 22-elk teen die Brakkies. Barbarians se derde span het soos die uitsoek-vyftiental op sy herrie gekry toe hy met 27-17 teen die tuisspan vasgeval het.
Dié nederlaag het ook beteken dat die derdes nou skielik as voorste aanspraakmaker op die punteleer na die derde posisie afgeskuif het.
Barbarians is môre op hul tuisveld teen die Maories in aksie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’