RUGBYNUUS - Met Shane Olkers vroeg van die veld met 'n rooi kaart, is die Barbarians se klubrugbyspan onder groot druk geplaas teen George RVK in die SWD se Premier Liga.
Vir die Babaas was dit boonop 'n wegwedstryd, maar die besoekers het hulself goed van hul taak gekwyt om 24 - 17 as oorwinnaars van die veld te stap ondanks die feit dat hul staatmaker-slot en 'n belangrike rat in die enjinkamer van die veld gestuur is vir ongeoorloofde spel.
Alle eer egter aan die sewe voorspelers, wat vir goed 70 minute hul man gestaan het om dié een deur te trek.
Hulle was ondanks die agterstand steeds baie effektief in die vaste fasette en ook by die afbreekpunte.
Die wedstryd is teen 'n geweldige pas begin waar met elke bal gehardloop is.
George het met Olkers se vertrek boonop die druk verhoog, maar die Barbarians se verdediging het gehou.
Die Babaas het in dié wedstryd die waarde van groter fiksheid terdeë besef met George wat hul knaend onder druk geplaas het. Daar was ook 'n hele paar onsmaaklike voorvalle van ongeoorloofde spel, wat die wedstryd by tye belemmer het. George het die telbord eerste aan die gang gekry met 'n strafskop, maar die besoekers het gou teruggeslaan en was met die draaislag in beheer met die telling 10 - 3.
Tweede helfte
George het die tweede helfte op 'n galop begin en die eerste punte aangeteken om die telling gelykop te maak. Barbarians het egter met goeie konstruktiewe spel daarin geslaag om die tuisspan tot foute te dwing en munt geslaan met twee suksesvolle strafskoppe en 'n onverdoelde drie. Met vyf minute se spel oor, was die telling 21 - 17 in die guns van die besoekers en die wedstryd kon nog enige kant toe gaan.
Die Babaas se verdediging het egter gehou en met 'n laaste en suksesvolle strafskoppoging is die uitslag bo alle twyfel gestel.
Die Babaas kon weliswaar nie die volle aantal punte vir die oorwinning aanteken nie, maar onder die omstandighede kan hulle tevrede wees met die punte wat hulle in 'n wegwedstryd behaal het.
Met die 2024-seisoen nog in sy kinderskoene is daar nog harde werk wat op die Barbarians wag, maar met twee oorwinnings in die sakkie, beweeg die Babaas in die regte rigting.
Ander spanne
Die B- en C-spanne het onderskeidelik met 44 - 7 en
20 - 10 gewen. Geen ligawedstryde vind oor die Paasnaweek plaas nie en die Barbarians se volgende wedstryd is teen die Maori's, ook van George.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’