Video
RUGBY NUUS EN VIDEO'S - As spanne wat aanstaande jaar in die eerste divisie van die Curriebekerreeks deelneem, Dinsdag 8 November spioene by die rugbyveld van NMU net buite George gehad het, sou hulle gesien het dat die SWD Arende in alle erns besig was met voorbereidings vir die nuwe seisoen.
Ofskoon die Arende eers vroeg in Februarie in hul eerste wedstryd in die Curriebekerreeks speel, sit die manne nie stil nie.
Die span draf op 21 Januarie op die einste veld in 'n vriendskaplike/opwarmingswedstryd teen NMU uit. Dinsdag was die eerste keer dat die Arende-groep by NMU geoefen het. Hulle sal voortaan Dinsdae en Donderdae by NMU oefen.
Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende bygestaan deur Zane Kirchner, agterspelerafrigter, Clemen Lewis, voorspelerafrigter en Darryl Claassen, fisioterapeut, het seker gemaak dat alles klopdisselboom verloop. Die voorspelers en agterspelers het afsonderlik geoefen.
'n Groep van 36 spelers is saamgestel wat sal moet help om die wa deur die drif te trek. Onder hulle is professionele spelers en semi-professionele spelers. Onder die spelers wat Dinsdag geoefen het, was manne wat in die nuwe seisoen die eerste keer in aanmerking sal kom om vir die Arende te speel.
Een van hulle is Adriaan van der Bank wat as een van die span se groot aanwinste beskou word. Die 25-jarige losskakel kom oorspronklik van Worcester. Hy het nog vroeër vanjaar die Maties (Universiteit van Stellenbosch) se eerste span aangevoer. Die span het teen die Universiteit van Pretoria (Tukkies) in die eindstryd van die Varsity Cup verloor. Van der Bank het reeds diep spore in Matie-rugby getrap en het ook al vir WP se o. 19-span uitgedraf.
Volgens Van der Bank sien hy sy betrokkenheid by die Arende as 'n geleentheid om sy rugbyloopbaan verder te vat. "Hier is baie potensiaal in die span en die afrigters is baie gedrewe."
Chuma Biyana (28) is ook van die nuwe aanwinste. Hy speel flank en het nog vroeër die seisoen vir die Grens Bulldogs teen die Arende uitgedraf.
"Ek sien uit na die seisoen en is opgewonde. Daar is 'n goeie gees in die span." Claassen het gesê dis 'n goeie groep spelers. Hy het pas die mediese beoordeling van die groep afgehandel. Volgens hom is daar spelers in die groep wat reeds goed gekondisioneer is. "Tot dusvêr gaan dit goed."
Dis sy taak om seker te maak dat die spelers fisies gereed sal wees wanneer die Curriebeker-reeks begin.
VIDEO: Hou die Arende dop
VIDEO: Arende oefen
VIDEO: Afrigter gesels oor die nuwe seisoen
Moolman het gesê sy eerste indrukke van die groep is baie positief. "Daar is beslis talent in die groep."
Vir die nuwe seisoen sal hy meer tyd hê. Hy het vanjaar eers kort voor die begin van die seisoen die leisels by die span aanvaar. Hy glo die span kan groei en teen die einde van die seisoen 'n sterk aanspraakmaker op die beker wees.
Die span het vanjaar derde in die reeks klaargemaak. Hulle het 10 wedstryde in die reeks gespeel waarvan hulle ses gewen en vier verloor het.
Die groep SWD Arende spelers en lede van die spanbestuur Dinsdag by NMU se hoofrugbyveld. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'