Video
GEORGE RUGBYNUUS EN VIDEO - Rugbyspanne wat die seisoen in die 1ste divisie van die Curriebeker teen die SWD Arende uitdraf, wees gewaarsku: Die Arende wil die beker wen.
Die Arende se opmars om uiteindelik die beker omhoog te hou, begin môre, Vrydag 18 Junie, om 17:00 wanneer die span teen die Valke op Outeniquapark uitdraf.
Aangesien Covid-19-regulasies steeds van toepassing is, sal geen toeskouers ongelukkig die wedstryd mag bywoon nie.
Die Arende het verlede week sy groep van 31spelers aangekondig waarvan 21 plaaslike spelers is. Die ander 10 kom van ander streke en is nadergetrek in posisies soos stutte en slotte.
Tydens die geleentheid het Hennie Baartman, uniepresident, die spelers en bestuur sterkte toegewens vir die komende seisoen.
Eddie Myners, hoofafrigter van die span, het sy vertroue in die span asook sy bestuur uitgespreek.
Eddie Myners (Hoofafrigter); Nkosi Nofuma (Mede-kaptein); Marquit September (Kaptein); Shane Ball (Mede-Kaptein); Hennie Baartman en Veda Manie.
Foto: Martin de Vos
Die afrigtingstoel is natuurlik niks nuuts vir Myners nie. Hy het in 2007 by die Arende begin as afrigter van die o.21-span. Later het hy tegniese adviseur en afrigter van die voorspelers vir die seniorspan geword. Daar was talle suksesse waaronder voorspelerafrigter toe die Arende die 1ste divisie van die Curriebeker in 2018 gewen het.
In sy speeldae het hy onder meer uitgedraf vir die Arende se amateurspan.
Later in 'n openhartige gesprek met George Herald het Myners gepraat oor die pad vorentoe. Hy het geen illusies nie en weet wat wag.
Die feit dat daar op die oomblik geen klubrugby is nie, is 'n nadeel, maar hy glo daar is heelwat talent in die streek. In die samestelling van die groep is onder meer gekyk na jonger talent.
Kyk 'n video hieronder:
Hy het gesê die manne is honger om te speel. Hulle het meer as 450 dae laas in amptelike wedstryde in die groen truie gespeel. Daar was laas in 2019 Arende-rugby op Outeniquapark.
"Ons sien uit na Vrydag se wedstryd. Dis boonop op ons tuisveld."
Die uitgebreide Arende groep. Afwesig: Tiaan Fourie en Pieter Fereirra.
Foto: Christopher Vernaak
Die wedstryd is baie belangrik want die Arende moet op 'n goeie noot begin.
Hy het benadruk wedstryde word nie benader net "om deel te neem nie" maar om te wen en uiteindelik die beker te wen.
Hy het dit as 'n jong span beskryf met 'n bietjie ervaring. Die span se sterkpunt is 'n baie goeie agterlyn. Dis belangrik dat hulle goeie balbesit kry. "As ons 'n goeie grondslag voorlangs lê, het ons genoeg slaankrag agter."
Covid-19 is 'n groot uitdaging en spelers word elke week getoets. Hy het groot lof gehad vir Martin de Vos, die spanbestuurder, wat sorg dat alle Covid-19-protokolle in plek is. Dis jammer dat geen toeskouers toegelaat word nie, maar hy glo dinge sal verbeter.
Die ondersteuners is baie belangrik. Hy het sy dank teenoor hulle uitgespreek vir hul ondersteuning oor die jare. "Ek belowe ons sal hulle trots maak. Ons is dankbaar vir die Here dat ons nog kan speel."
Eddie Myners, hoofafrigter van die SWD Arende op Outeniqua Park.
Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'