Video
GEORGE RUGBYNUUS EN VIDEO - Vir die SWD Arende sal 'n oorwinning in Vrydagaand se eindstryd in die Curriebeker se Eerste Liga oor die Valke die kroon span op 'n droomseisoen.
'n Oorwinning kan ook hul paspoort wees tot 'n moontlike promosie-relegasie-wedstryd teen die Vrystaat-Cheetahs om toelating tot die Curriebekerreeks se Premierliga. Die SA Rugbyunie vergader einde Oktober om hieroor te besluit.
Die Arende het die Curriebeker se Eerste Liga in die eerste plek afgesluit en toe die Griffons (22-6) verlede Vrydag in die halfeindstryd geklop. Die Bloemfonteiners het laaste in die Premierliga geëindig en gee SARU wel die groen lig moet hulle die Arende in die promosie-relegasie-wedstryd klop om in dié liga te bly.
Maar nou eers by Vrydagaand se eindstryd tussen die twee topspanne in die Eerste Liga dié seisoen.
Dis twee voëls van eenderse vere wat mekaar aandurf, maar of daar van vlieg enige sprake gaan wees, staan te besien. Veel eerder gaan die Arende en die Valke hul skerp kloue op die rugbyveld inslaan in 'n liplekker-tweestryd.
'n Eindstryd tussen twee spanne, wat so goed teen mekaar opweeg, is 'n resep vir 80 minute se hoogdrama en dit sal met 'n naelbytery en bloedsweet gepaardgaan. Nie net vir die spelers nie, maar ook vir die toeskouers wat, hopelik, die pawiljoene vir 'n slag gaan volpak.
Die Arende het dié seisoen hul kant gebring; nou moet die Suid-Kaapse rugbygeesdriftiges en ondersteuners hul gewig en masse agter die tuisspan ingooi.
Die gewese Bok-heelagter Bevin Fortuin en 'n oudspeler en -afrigter van die Arende, het in 'n onderhoud met die George Herald gesê die Arende moet vergeet van hul vyf agtereenvolgende oorwinnings dié seisoen. "Al wat nou tel, is Vrydagaand se eindstryd. Bly 100% daarop gefokus en konsentreer daarop om die basiese dinge reg te doen.
Kyk video's hieronder.
Drie senior spelers van die SWD Arende wat Vrydagaand op Outeniquapark in die eindstryd teen die Valke sleutelrolle kan vervul. Regs is Jacques Vermaak, besielende kaptein en haker van die Arende, die bestendige skrumskakel, Johan Steyn (middel), en Janneman Stander, vurige flank (met bal). Foto's: Hugo Redelinghuys
Vergeet van allerhande tierlantyntjies en nuwe wedstrydplanne en hou by die beproefde resep wat julle vanjaar so suksesvol gemaak het.
"En 'n tuisveldvoordeel is ook net 'n voordeel as jy al jou kanse benut.
"Vergeet van mooi rugby speel en skop pale toe as jy binne trefafstand is.
"Onthou, met 'n eindstryd gee die toeskouers nie 'n duit om hoe jy gewen het nie." Tog het die Arende 'n paar dinge wat in hul guns tel. Danksy 'n beseringsvrye halfeindstryd kan hulle 'n volsterkte span in die veld stoot. Die bestendigheid in spankeuses dié seisoen skep vertroue by die spelers en die opbou in wen-momentum - vyf agter-eenvolgende oorwinnings is soos musiek op die ore - is al genoeg rede vir die Arende om hoër as normaal te vlieg.
Daar is geen twyfel nie; die Arende het die spelers om die eindstryd te beklink.
Hulle het vroeër die Valke op hul tuisveld met dieselfde manne met 36-34 geklop.
Hul uitvoering en ingesteldheid is eksieperfeksie en hul spangees kerngesond. Teen die Valke moet die Arende waaksaam wees om balbesit beter te beskerm, want die besoekers het nogal 'n gewoonte om stuitige teenaanvalle uit gebroke spel te loods.
Dis belangrik om die Valke se agttal in toom te hou, die duiwel uit hulle agterlangs te lak en seker te maak hul snellers kry nie die bal en ruimte om in aan te val nie.
Die Arende het 'n hele koker vol skerp pyle. Een van hulle is Divan Nel, die voorste puntemaker in die Eerste Liga vanjaar, wat in die eindstryd met sy skopvoet 'n deurslaggewende rol kan speel.
Kom kyk om 18:00 op Outeniqua-park hoe die Arende die beker omhoog lig - die eerste keer in vyftien jaar!
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'