GEORGE NUUS - Vrydagaand gaan 'n stryd der stryde op Outeniquapark heers wanneer die titane in die Eersteliga van die Curriebekerreeks, die SWD Arende en die OP Kings, mekaar met alle moontlike skietgoed gaan pak.
Die Arende en OP Kings is tans die enigste onoorwonne spanne in die kompetisie en is boaan die punteleer met 19 ligapunte elk.
In die laaste ontmoeting van die twee buurspanne was dit die Arende wat as oorwinnaars van die veld gestap het en die Kings sal die bordjies dolgraag wil verhang.
Beide spanne het goeie oorwinings tot dusver in die reeks behaal en sal hul onoorwonne rekords met alle mag verdedig.
Afrigter Johann Lerm is egter vol vertroue dat hulle Vrydagaand gaan feesvier.
"Ons het respek vir die OP Kings en weet hulle is 'n goed voorbereide span wat al sterker in die kompetisie geword het, maar die Arende is vol selfvertroue en draf nie op 'n veld om te verloor nie. As die keuse by ons gelê het, sou ons hulle eers op hul eie veld wou troef en dan hier wou ontvang, maar die bepalings was nie in ons hande nie.
"Ons gaan Vrydagaand alles gee en is reeds goed voorbereid om hulle in hul segetog te stuit. Ons doelwit is Curriebe-ker-deelname en dit is waarvoor ons speel," het hy gesê.
Die span is hierdie week by die Laerskool Kretzenshoop op Blanco, waar die Arende Bevin Fortuin en Christo du Plessis hul rugby geleer het, aangekondig.
By hierdie geleentheid het Lerm ook gesê dat die Arende se gety besig is om te draai en dat hulle alle moontlike ondersteuning nodig het om in hul doelwit te slaag.
Gelukkig vir die Arende kan hulle 'n volsterkte-span in die veld stoot.
Die vaskopstut Wickus Harmse het 'n ligte besering en sal eers 'n fiksheidstoets moet ondergaan, maar hy is vol selfvertroue dat hy reg sal wees.
In hul laaste wedstryd het die Arende agt drieë gedruk en die Valke in Kempton Park met 55-47 (34-20) afgestof.
In hierdie wedstryd het veral die Arende goeie karakter getoon deur terug te veg nadat die Valke na sowat 20 minute in die wedstryd reeds met 17-13 voor was.
Die Arende se driedrukkers was Jacques Engelbrecht, Shaun Raubenheimer, Danzil Manuel, Lubabalo Mtyanda, Wickus Harmse, Bevin Fortuin, Bobby Joubert en Joe Breytenbach. Ambrose Barends het met drie doelskoppe en 'n strafdoel geslaag terwyl Joubert ook drie doelskoppe bygevoeg het.
Die wedstryd begin om 19:00, maar word voorafgegaan deur junior rugby van verskeie plaaslike laerskole asook SWD se 0/19- en 0/21- spanne wat kragte meet teen hul eweknieë van Griekwas.
Ná die Arende se wedstryd volg 'n klubwedstryd tussen Silverstars A teen Bridgton A.
Die hekke open reeds om 14:00 en die toegang is R20. Toegang vir skoliere is gratis.
Alle Arende-ondersteuners word gevra om in groot getalle na die wedstryd op te ruk en in groen kleure hul tuisspan te ondersteun.
Kaartjies word vooraf by die uniekantore (044 873 0137) en Top Gear Sport in George verkoop. Verskeie kompetisies sal ook voor, tydens die wedstryd en rustyd aangebied word.
Artikel: Jannie Meyer