GEORGE NUUS - Die eerste divisie van die Curriebekerreeks begin nou interessant raak en daar behoort in die komende week of twee, duidelikheid te wees oor of die SWD Arende in 'n halfeindstryd gaan speel al dan nie.
Die Arende speel môre, Vrydag 3 Junie, teen die Black Lions van Georgië. Daarna moet die Arende nog op 11 Junie teen Grens Bulldogs in Oos-Londen speel.
Die uitslae van die Arende se twee oorblywende wedstryde en die uitslae van ander wedstryde, sal bepaal wat gaan gebeur.
Tot dusver gaan dit in die breë goed met die Arende en die span is nog 'n faktor in die reeks. Die span het op Saterdag 28 Mei kopgehou en in moeilike weersomstandighede die Simbas (Kenia) met 24 - 7 in Athlone, Kaapstad geklop.
Dit was die Arende se sewende wedstryd in vanjaar se eerste divisie van die Curriebekerreeks. Die span het nou vyf oorwinnings en twee nederlae in vanjaar se reeks.
Tydens Saterdag se wedstryd het dit by tye erg gereën en sterk winde het gewaai. Dit het spel baie bemoeilik.
Die Simbas het eerste punte aangeteken en was rustyd 7 - 5 voor. Die Arende het die eerste keer na sowat 11 minute in die tweede helfte die voortou geneem.
Die Arende het gewys hulle is 'n span om mee rekening te hou en nieteenstaande die moeilike weer, vier keer agter die doellyn gaan kuier in die wedstryd. Twee van die doelskoppe was suksesvol.
Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende, het Maandag gesê die weer was 'n faktor. Die Arende het hul wedstrydplan beter in die twee helfte uitgevoer. Die Simbas het in die tweede helfte ook teen die wind gespeel.
Volgens hom was die Simbas 'n baie fisieke span. Hulle was goed op die dag en duidelik honger vir 'n oorwinning.
Die weersomstandighede het dit nie vir beide spanne moontlik gemaak om die bal te versprei nie en hulle moes die bal dra.
Hy is tevrede met die karakter wat die Arende in die wedstryd gewys het. Die span se vier drieë beteken dat hy ook 'n bonuspunt gekry het.
Hy verwag 'n groot uitdaging teen die Black Lions. "Hulle is 'n baie goeie en professionele span."
Hulle het die afgelope naweek teen die Boland Kavaliers verloor. Vir beide die Arende en die Black Lions is Vrydag 'n alles of niks wedstryd. Beide spanne is nog in 'n posisie om te kan kwalifiseer vir die halfeindstryd.
Môre is 'n tuiswedstryd vir die Arende. Dit vind op Outeniquapark plaas en begin om 16:00.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'