GEORGE NUUS - Dis mos 'n aanloklike wortel voor jou neus: wen dié ene en jy speel in die halfeindstryd van die Curriebeker se Eersteliga-kompetisie.
Gawe gedagte, maar of die SWD Arende, ná hul broekskeursege van 36-32 oor die Welwitchias van Namibië, met groot selfvertroue sal opruk na Wellington om die Boland-Kavaliers Saterdagmiddag te pak, word bevraagteken.
Hulle moes die Namibiërs begrawe het.
Dit het net so gesukkel met twee ander plaaslike spanne wat in aksie was. Die SWD se o.20-rugbyspan die Valke in Brakpan met 35-33 geklop en vir 'n tuishalfeindstryd gekwalifiseer.
En Progress het Swallows in Oos-Londen in die Goue Beker-uitdaagreeks met 35-32 gewen.
'n Oorwinning sal die Arende se derde plek op die puntelys vasmessel. Wen hulle met 'n bonuspunt, kan hulle bo die Valke, nou tweede op die puntelys met 18 punte, inskuif.
Die Arende het 17 punte ná drie oorwinnings en word gejaag deur die Valke, vierde op die puntelys met 16 punte.
Die Boland se beskeie vyfde plek (14 punte) verbloem dat dié span veel moeiliker is om te klop.
Die wete dat 'n nederlaag teen die Suid-Kapenaars hul Curriebeker-veldtog sal laat misluk, sal genoeg motivering vir die Bolanders wees om hulself uit hul nate te speel.
Hierna pak die Arende die agteros in die Eersteliga, die OP Kings, wat onderaan die puntelys dobber met 'n skrale vier punte.
Dus ook hope motivering vir die Arende om sy laaste twee ligawedstryde met bonuspuntoorwinnings af te sluit - en 'n tuishalfeindstryd op die koop toe te beklink.
Die Arende-span was met druktyd nog nie bekend nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'