TUINROETE DISTRIKSNUUS - Die SWD Arende het vanmiddag (28 Mei) kop gehou en in moeilike weersomstandighede die Simbas (Kenia) met 24-7 geklop.
Dit was die Arende se sewende wedstryd in vanjaar se eerste divisie van die Curriebekerreeks.
Die span het nou vyf oorwinnings en twee nederlae in vanjaar se reeks.
Vanmiddag se wedstryd is in Athlone, Kaapstad gespeel en by tye het dit erg in die eerste helfte gereën.
Die Simbas het eerste punte aangeteken. Rustyd was die Simbas 7-5 voor. Die Arende het die eerste keer na sowat 11 minute in die tweede helfte die voortou geneem. Die Simbas het by tye dapper gespeel en verbete teruggeveg.
Die Arende het egter gewys hulle is 'n span om mee rekening te hou en vier keer agter die doellyn gaan kuier. Twee van die doelskoppe was suksesvol.
*Die Arende het met swart bande op hul arm gedeelte van hul truie gespeel in simpatie met mense wat geraak is deur verlede Saterdag se bus ramp in Wilderness. 'n Bus van die Excelsior-rugbyklub van Wittedrif in Plettenbergbaai was in 'n ongeluk betrokke. 'n Tweejarige seuntjie is dood in die ongeluk en verskeie rugbyspelers en ondersteuners van die klub is beseer.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'