GEORGE NUUS - Vir die SWD Arende is dit Vrydag 20 Mei weer 'n tuiswedstryd wanneer die span teen die Zimbabwe Goshawks op Outeniquapark in George uitdraf.
Nie dat dit lyk of 'n wegwedstryd die span noodwendig benadeel nie. Die afgelope Saterdag, 14 Mei, het hulle hul ondersteuners baie bly gemaak toe hulle die Valke met 38 - 35 op die Bosman-stadion in Brakpan geklop het.
Dit was die span se vyfde wedstryd vanjaar in die eerste divisie van die Curriebekerreeks. 'n Tekort aan spanning was daar beslis nie in die wedstryd nie en die uitslag was tot kort voor die einde in die weegskaal.
Beide spanne het verskeie kere agter die doellyn gaan kuier. Die Arende het eerste punte aangeteken en binne die eerste tien minute 'n drie gaan druk. In 'n stadium het die Arende met 14 - 0 voorgeloop.
Die Valke het teruggeslaan en die voortou geneem. Tot kort voor rustyd het die Valke met 21 - 14 voorgeloop. Die Arende het egter weer gaan druk en rustyd was die telling 21 - 21.
In die tweede helfte was die doellyn weer gewilde besoekplekke vir beide spanne. 'n Suksesvolle strafskop van die Arende, kort voor die einde, het die deurslag gegee.
Die vreugdevure het na die wedstryd hoog gebrand vir die Arende. Hennie Baartman, uittredende president van SWD-rugby, het ook die wedstryd bygewoon.
Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende, het Maandag 17 Mei gesê dit was 'n spannende wedstryd. Toe die Arende 14 - 0 voor was het die span bietjie konsentrasie verloor en dit het die Valke in staat gestel om tot 21 - 14 te vorder.
Volgens Moolman het die Arende se skrums baie goed gewerk en die Valke onder baie druk geplaas.
Die Arende het egter nie alle geleenthede benut nie. Hy het gesê die span leer elke week en die spelers begin elke week besef oor watter potensiaal hulle beskik.
Daar is 'n opwaartse kurwe. Dis nooit maklik om 'n wegwedstryd te wen nie. Die wedstryd het net weer gewys dis nooit verby tot die eindfluitjie geblaas het nie.
Die Arende verwag 'n goeie uitdaging Vrydagmiddag om 16:00 teen die Zimbabwe Goshawks. Die Zimbabwe Goshawks het hul laaste twee wedstryde teen Boland en Grens gewen.
"Ons sal maar sien wat se faktor die weer is in die wedstryd," het Moolman gesê.
Die Arende het nou vyf wedstryde agter die blad waarvan hulle drie gewen en twee verloor het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'