Hy gaan in die reeks bygestaan word deur Rynard van As (agterspelers) en Eddie Myners (voorspelers).
"Ons het vir die Vodacom-reeks van klubspelers gebruik gemaak en om leemtes aan te vul het ons spelers gaan soek om ons span te versterk."
Kontrakte is gevolglik gesluit met Wilhelm Koch (kaptein), Hans van Dyk (onderkaptein), Grant Kemp, Stokkies Hanekom en Theuns Kotze. Lerm is veral opgewonde oor die talentvolle losskakel Kurt Coleman wat by die WP geleen word en Sidney Tobias, ook van WP, sluit volgende week by die Arende aan.
"Daar was 'n definitiewe kopskuif na spaneenheid. Die span self het sewe leiers uit die senior manne gekies wat die pas sal aangee op die veld. Die bestuurspan is positief en streef saam met die span na uitnemendheid. Ons het goeie werksetiek en dissipline en daar is 'n nuwe professionaliteit. Dit gaan 'n verskil op die veld maak.
"Ons leuse is eerlikheid, respek en lojaliteit, op die veld en van die veld af," het Lerm gesê.
Hennie Baartman, president van die SWD Arende, het gesê hy is vol vertroue dat die span goed gaan vaar in die Curriebeker-reeks.
"Die wedstryd wat ons teen WP, die wenners van die Vodacom-reeks gewen het, het gewys ons manne is gereed vir groot dinge. Hulle het hard gewerk in die vorige seisoen, hulle is top fiks en gefokus," het Baartman gesê.
Die SWD Arende speel Vrydag vir die eerste keer in hul nuwe rugbytruie wat spesiaal vir die Curriebeker-reeks ontwerp is. Die truie maak voorsiening vir 'n tuis- en wegwedstryde.
Vir die eerste keer is daar ook 'n afsonderlike veilige ruimte geskep vanwaar ma's met kinders die wedstryd kan dophou. Die wedstryd begin om 19:00 en kaartjies is by die hek en vir die eerste keer by Computicket beskikbaar. Die hekke open om 15:00.
Die SWD o.21's speel om 17:00 'n vriendskaplike wedstryd teen Grens se o.21's.
Die SWD Arende se span is: 15 Elrick van Vuuren, 14 Clint Wagman, 13 Stokkies Hanekom, 12 Jeff Taljaard, 11 Alshaun Bock, 10 Kurt Coleman, 9 Johan Herbst, 8 Michael Vermaak, 7 Wilhelm Koch (k), 6 Dumisane Meslane, 5 Grant le Roux, 4 Lehan Koekemoer, 3 Grant Kemp, 2 Hans van Dyk (o/k), 1 Jean Rossouw. Plaasvervangers: 16 Wayne Khan, 17 Dean Hopp, 18 Giant Mtyanda, 19 Shaun Raubenheimer, 20 Mzo Dyantyi, 21 Kempie Rautenbach, 22 Baldwin McBean.
