GEORGE NUUS - As die Jong Arende môremiddag, Vrydag 30 September, wen of verloor op Outeniquapark in SA Rugby se o. 21- skildreeks, gaan dit nie 'n verskil maak nie: die span is reeds deur na een van die halfeindrondes in die reeks.
Dit beteken egter nie die span benader die wedstryd teen die Griffons nie ernstig nie.
Die Jong Arende sal op 8 Oktober in een van die halfeindrondes speel, maar die vraag is of die wedstryd of selfs 'n moontlike eindstryd later, tuiswedstryde sal wees. Die eindronde vind op 15 Oktober plaas.
'n Groot wedstryd word môre teen die Griffons verwag. Dat 'n berg vir die Jong Arende wag is duidelik en dit gaan hoër wees as die Outeniquaberge. Dit lyk eerder na Everest. Die Griffons is tot dusver onoorwonne en is die span wat vanjaar geklop moet word.
In die afrigtingspan van die Griffons is twee manne wat sterk vorige bande met die SWD gehad het. Jacques Juries en Denzil Frans kom oorspronklik van die SWD en het op hul dag ook vir die SWD Arende uitgedraf.
Die Jong Arende se mees onlangse wedstryd het hulle Griekwas met 21 - 17 geklop. Dit was die span se derde oorwinning uit vier wedstryde. Die Jong Arende het sover net teen die Valke in vanjaar se reeks verloor.
Gerwyn Alexander, SWD se o. 21-afrigter, het Maandag gesê hy verwag 'n harde wedstryd teen die Griffons. "Die Griffons is nie 'n maklike neut om te kraak nie. Ons sal ons allerbeste gee.
"Die span is slaggereed en sien baie uit na die wedstryd. Verlede naweek het ons 'n afnaweek gehad en die span is uitgerus vir die wedstryd."
Jearus Nicholas, hulpafrigter van die Jong Arende, het Dinsdag gesê die mikpunt is om 'n tuis halfeindronde te verseker. "Dit is moontlik en ons benader die wedstryd baie ernstig."
Volgens Nicholas het die span se sterkpunte nog nie navore gekom nie. Die Griffons is beslis die gunstelinge vir die wedstryd. Hul strukture waaronder hul oefen en hul afrigters moet in ag geneem word.
Die "tuiswedstryd-faktor" is tot beide spanne se voordeel. Die Griffons het in al hul wegwedstryde in die reeks vanjaar weghol oorwinnings behaal.
Dis belangrik dat die plaaslike onder-steuners opdaag. "Dis 'n wedstryd waarin ons heeltemal afhanklik is van ondersteuning."
Die wedstryd begin om 15:30 op Outeniquapark en toegang is gratis. Die publiek word gevra om op te daag en die Jong Arende te kom ondersteun.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'