GEORGE NUUS - Die SWD Arende skuif na Vrydagaand se volpunte oorwinning van 31-27 oor die Boland Kavaliers in die SuperSport-uitdaagreeks op Outeniquapark na die tweede posisie op die punteleer met 24 punte.
Rustyd was die wenspan met 10-7 voor.
Die Arende het die bordjies verhang nadat hul vroeër die seisoen in Wellington deur die Wynboere met 37-12 afgeslag is.
Rynardt van As, hoofafrigter van die Arende, en sy afrigtingskorps het rede om breëbors rond te loop nadat sy jong onervare span, wat verskeie klubspelers in hul geledere het, hul vyfde oorwinning die seisoen in die kompetisie behaal het.
Vir die Arende wag daar Vrydagmiddag om 15:00 'n moeilike kragmeting op Brookside in Kaapstad wanneer hulle die DHL Westelike Provinsie, wat die voorloper op die punteleer is, die stryd aansê.
Die manne van die Suid-Kaap baklei vir 'n plek in die kwarteindrondes en sal alles in die stryd werp om die bordjies te verhang nadat die WP hulle in hul laaste kragmeting op Oudtshoorn sleg slae gegee het.
Boland, wat in die doodsnikke van die wedstryd 'n bonuspunt drie gedruk het en twee waardevolle punte uit die wedstryd verdien het, is derde op die punteleer met 21 punte.
Hul droom is ook nog om die uitspeelrondes te haal. Die Kavaliers pak Saterdagmiddag vir die OP Olifante in Port Elizabeth.
"Ek is verheug en dankbaar vir die wen. Ons het ons doelwit bereik om met 'n volpunte oorwinning die knoop deur te hak. In die vaste fasette en skrums het ons baie druk op hulle geplaas. Ek is baie in my noppies met die vier pragdrieë wat my span gedruk het. Die plaasvervangers het weer 'n groot verskil gemaak. Ons gaan die week baie hard werk aan ons lynstaanbesit wat in die tweede helfte gelol het. Ons is nog baie positief om die uitspeelrondes te haal en gaan alles in die stryd werp om punte te kry teen die WP," het Van As aan die George Herald gesê.
Puntemakers:
SWD Arende 31 (13): Drieë - Leighton Eksteen (heelagter), Alshaun Bock (regtervleuel), Tyler Fisher (buitesenter), Adi Jacobs (linkervleuel). Eksteen slaag ook met vier doelskoppe en 'n strafdoel.
Boland Kavaliers 27 (10): Drieë - Clinton Theron (vaskopstut), Sergio Torrens (linkervleuel) , Charles Mayeza (regtervleuel), Kenan Cronjé (plaasvervanger). Elgar Watts (losskakel) slaag met 2 doelskoppe en 'n strafdoel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'