GEORGE NUUS - Die opwindende George July word vir die tweede agtereenvolgende jaar beplan - hierdie keer op 24 Junie.
Dit is George se eie 'Durban July' en is geskoei op die tradisionele perdewedrenne wat elke jaar in Julie in Durban plaasvind en duisende mense lok. In die George July ding stokperde mee om die eerste plek en dit sorg vir groot pret.
Die gebeurtenis is 'n geldinsamelingsprojek ten bate van The Seven Passes Initiative. Die instansie bestaan al sedert 2008 en maak 'n groot verskil in die lewens van talle mense in onder meer die Hoekwil- en Touwsranten-omgewing.
Wilmi Dippenaar, direkteur van Seven Passes, sê vanjaar se tema is 'Out of this World'.
"Dit is 'n spoggeleentheid wat 'n jaarlikse instelling gaan word en hoort op ons almal se jaarlikse kalender. Dis 'n pretgeleentheid en gemeenskapsprojek wat deur besighede en ondernemings gebruik kan word om hulself te bemark en met mekaar en hul kliënte te netwerk."
Die geleentheid in George sal by die elegante Acropolis Venue buite Blanco plaasvind. Altesaam vier gewone wedrenne en 'n hoof-wedren sal gehou word, waartydens deelnemers met stokperde om 'n baan sal hardloop.
Om 'n stokperd in een van die wedrenne te borg, kos R1 500 en dis oop vir besighede en individue. Die eienaar van 'n stokperd moet self 'n jokkie verskaf en hom/haar dan aantrek in 'n uniform - professioneel of prettig!
Toegangsgeld vir toeskouers en almal wat die dag wil geniet, beloop R350 per persoon vir 'n middag se heerlike vermaak van 13:00 tot 17:00.
Buiten die wedrenne, sal daar ook ander aktiwiteite wees wat op die dag plaasvind. 'n Regte perdevertoning word beplan, daar sal verskeie wyn-, jenewer- en bierproegeleenthede wees, heerlike eetgoed sal deurlopend bedien word en daar sal ook 'n kontantkroeg beskikbaar wees.
"Die organiseerders beloof besoekers dieselfde opwinding as by die Durban July. Natuurlik is kleredrag ook net so belangrik en gaste kry dus die geleentheid om hulself uit te vat in 'n spoggerige uitrusting geïnspireer deur die tema, 'Out of this World'," sê Dippenaar.
Opwindende pryse is op die spel vir die besgeklede toeskouers en paartjies.
Kaartjies vir die George July is reeds beskikbaar op Quicket. Om 'n perd te borg of vir meer inligting, stuur 'n e-pos stuur aan amy@aecevents.co.za.
In 'n prettige luim en uitgevat in die gees van die July: Gaste by die 2022 George July.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’