Altesaam 470 vis met ‘n gewig van 415.82kg is deur die 63 hengelaars ingeweeg.
Soos gewoonlik speel die weer nie altyd saam met die verrigtinge nie en dit was maar triesterig langs die dam.
Die meeste hengelaars het ‘n sonskyndag verwag met groot vangste, maar ‘n kouefront het verhoed dat groot sakke vis ingeweeg is.
Stompdriftdam, wat die tuiswaters van Kango-hengelklub is, lewer tans die beste vangste in die Suid-Kaap.
Ben Vrey, wat vir Kango B hengel, het algeheel die beste sak vis (24 vis, 21.5kg) ingeweeg.
Johannes le Roux, Hannes Otto en Kobus le Grange het ook met goeie vangste kort op sy hakke gevolg.
Jurie Geldenhuys (DKD) het die grootste karp van 2.90kg gevang. Chantelle Terblanche (Hartebeeskuil) het ‘n allemintige baber van 6.88kg uitgetrek en sodoende haar sone oortuigend gewen.
Emile Calitz (Eden) en Blackie Thysse (Kango B) het elk ook ‘n moddervis van 0.56kg gevang.
Rochelle Nortjé (10 jaar) van Eden-hengel-klub was die jongste hengelaar en het haar bydrae van 3 visse gelewer en so vir haar span 4 waardevolle spanpunte ingesamel.
Die span-uitslae is:
A-afdeling: 1 DKD 59 punte; 2 Kango A 47; 3 Hartebeeskuil A 45; 4 Eden A 40; 5 Visarende 25.
B-afdeling: 1 Kango B 50; 2 Hartebeeskuil 31; 3 Eden B 23; 4 Kango C 21.
Die tweede ligakompetisie word op 19 Februarie deur die Eden-hengelklub van Mosselbaai by Hartebeeskuildam buite Hartenbos aangebied.
Emile Calitz hou sy moddervis van 0.56kg vas.