TUINROETE | KAROO NUUS - Tydens 'n internasionale hengelkompetisie tussen Suid-Afrika en Namibië in Desember 2022 in Jeffreysbaai, het 'n plaaslike Protea-hengelaar begin naam maak in die hengelkringe toe hy 'n skeurtandhaai van 168kg gevang het en met die titel as die algehele beste o/16-hengelaar weggestap het.
Sy span het ook gewen. Hy het ook oor al die kategorieë tweede geëindig.
Walter van Rensburg (14) is op 10 Januarie saam met die Eden-span na die Weskus om deel te neem aan die Nasionale kushengelkompetisie.
Die kompetisie het oor drie dae gestrek en hengelaars het by Varkensvlei en Dwarskersbos gehengel.
Walter het egter nie teleurgestel nie en het vierde in die o/16-kategorie geëindig met 'n totaal van 157,37kg. Sy span was tweede met 583,11kg na hulle die vorige twee jaar gewen het.
Die kompetisies vind in verskeie kategorieë plaas. Daar is die Protea o/16, o/21, seniors, meesters, groot meesters en vroue-spanne. Die Eden o/16-span het bestaan uit Walter, Conner Noble, Gericke Rossouw, Johan May en Jaco Olivier. Noble en Rossouw is beide van die Mosselbaai hengelklub.
Walter is 'n kranige sportman. Hy is 'n oudleerder van Laerskool Park en vir sy hoërskool-loopbaan is hy tans by Hoërskool Outeniqua in George.
Hy is verlede jaar in die o/16 Protea-span opgeneem en gaan nog groot naam maak in hengelkringe. Die Protea-span neem in Desember in Namibië teen Namibië deel.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'