In die proses het hulle die onderskeiding behaal om as die enigste onoorwonne span in die toernooi uit die stryd te tree en het op 64 wedstrydpunte geëindig.
Die sesde en finale ronde van die toernooi wat by die Outeniqua-rolbalklub plaasgevind het, het verskeie verrassings opgelewer op ‘n aand wat vir kwaliteit-rolbal onthou sal word.
De Ja Vu (63 wedstrydpunte) het slegs een wedstrydpunt kort van Nels Meubels 2 in die tweede plek geëindig. Hulle het verspot maklik met 13-3 teen die borgspan, Brandhouse 2, geseëvier.
In die proses het Brandhouse 2, wat ná drie rondes van die toernooi as ‘n guns-teling beskou is om die toernooi te wen, hul derde agtereenvolgende nederlaag gely.
Nels Meubels het verder sout in die wonde van hul teenstanders gevryf toe Nels Meubels 1 in ‘n aanskoulike wedstryd met 13-12 teen Standard Bank gewen het. Met hierdie oorwinning het hulle die derde algehele plek verseker terwyl Standard Bank, as ‘n eerste inskrywing tot die toernooi, in ‘n welverdiende vierde posisie geëindig het. Hulle, tesame met die Liberty Giants, The Greenies, Just Letting en Total Sandkraal is almal nuwe inskrywings wat tydens die toernooi beïndruk het deur almal in die boonste helfte van die veld te eindig.
Die E-lemon-ators het hul eerste oorwinning in die toernooi gesmaak toe hulle Hino’s 2 gemaklik met 16-6 geklop het. Hino’s 2 is ook die enigste span wat geen oorwinning kon behaal nie en moes met die laaste plek tevrede wees.
Hul sportiewe deelname is egter beloon toe hulle die nou bekende TO Honiball-skets, geskenk deur Meyer Otto, in ontvangs geneem het.
Hierdie suksesvolle toernooi is Vrydagaand met ‘n braaivleis, wat deur sowat 150 spelers, hul gades en klublede bygewoon is, afgesluit.
Die volgende aandliga sal in November by die Outeniqua-rolbalklub ‘n aanvang neem.
_jpg.jpg)
Nels Meubels 2 die Brandhouse-kampioene saam met Brandhouse se Marius Esterhuizen (agter).
_jpg(2).jpg)
De Ja Vu se spanlede wat in die tweede plek geëindig het. Agter staan Marius Esterhuizen van Brandhouse.