GEORGE NUUS - Suid-Afrika se beste ovaalbaan-knortjorjaers sal mekaar Saterdag 10 Augustus die stryd aansê tydens The Titan Champs-kompetisie wat deur die George Dirt Karting (GDK) in samewerking met die George-motorklub aangebied word.
Van die vinnigste renjaers uit die Kaap, Malmesbury, Vredenburg, Oudtshoorn, Mosselbaai en George gaan meeding om as kampioen gekroon te word.
“Met die hulp van ons hoofborg, Titan Helikopter Groep, sal hierdie geleentheid regstreeks uitgesaai word - 'n eerste vir ovaalbaan-knortjorre. George lei die pad met hierdie innoverende stap,” sê Marius Uys van GDK.
Die aksie begin Saterdag om 10:30, wanneer die groen vlag val en die grond begin spat tot ná donker, met die spreiligte wat die opwinding verder aanwakker.
Daar sal 11 aksiebelaaide wedrenklasse wees en meer as 100 knortjorre wat beloof om die toeskouers op die punte van hul stoele te hou.
“Moenie hierdie skouspel misloop nie - dit sal 'n belewenis van 'n leeftyd wees,” sê Uys.
Waar: George-skouterrein, binne die ovaalbaanarena.
Tyd: Hekke open om 08:00.
Kaartjies: Volwassenes betaal R60 en kinders onder 12 betaal R30.
Kosstalletjies beskikbaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’