Só het Riaan Swanepoel, afrigter van die Suid-Kaapse Akademie vir Trampolien-gimnastiekklub (Skat), aan die George Herald gesê oor sy vier topgimnaste, wat hy saam met Carolyn Cohen afrig, se kanse om teen sterk internasio-nale kompetisie vir podium-
plekke mee te ding.
Die vierstuks wat hulle tans voorberei vir dié Spele, is Marli Droomer en Carel Cloete (albei Hoërskool Outeniqua), Karli Olivier (Laerskool Outeniqua) en Dillin Heatcote (Glenwood House).
"Ons het ongelooflike talent in Eden en veral dié vier gimnaste moet 'n sterk kans staan om na die eindronde deur te dring," sê Swanepoel. "Maar dit gaan be-slis nie maklik wees teen lande soos Amerika, Australië, Japan, Mexiko, Kanada, Nieu-Seeland en Argentinië wat hul bestes hier-heen stuur nie. Dan praat ek nie eens van die Europese lande wat ook kom meeding nie."
Wat sake natuurlik verder bemoeilik is dat slegs agt gimnaste per ouderdomsgroep - met 'n maksimum van twee per land - uit al die deelnemers kan deurdring. "Om dus na die eindronde deur te dring, is op sigself 'n buitengewone goeie prestasie."
Hoewel Swanepoel nie enigeen wou uitsonder nie, moet Droomer waarskynlik die beste kans staan om die eindronde te haal. Dié 18-jarige blondekop is pas by die Afrika-kampioenskappe as die senior vroue-kampioen op die trampolien gekroon. 'n Prestasie wat sy ook in 2012 behaal het toe sy as Afrika se junior kampioen aangewys is. Hoewel sy verlede jaar vir die wêreldkampioenskappe gekeur was, het sy 'n ligament geskeur en kon sy in 2013 nie aan enige verdere kompetisies deelneem nie.
Vanjaar se Afrika-kampioenskappe, veral, was 'n persoonlike triomf vir Droomer en die SA-span. Sy het goud vir die trampolien en 'n silwermedalje vir die dubbel mini ingepalm en gehelp om ook 'n goue medalje vir die span te wen.
Haar spanmaat Cloete staan ook 'n sterk buitekans. Hy het in 2013 by die wêreldkampioenskappe met 'n gebreekte gewrig deelgeneem en algeheel twaalfde geëindig.
Maar Swanepoel is vol vertroue dat sy gimnaste hulself in sterk internasionale geselskap kan laat geld. "Die mense besef nie aldag watse talent hier in Eden is nie. Eden stuur vier gimnaste wat binnekort aan die Kaaplandse kampioenskappe gaan deelneem terwyl drie provinsies, Westelike Provinsie, Boland en die Weskus, saam net drie gimnaste kon oplewer. Daarom is ek vol vertroue dat ons plaaslike talent op die groter verhoog kan uitblink."

Die 18-jarige Marli Droomer is ná afloop van die Afrika-kampioenskappe as die senior Afrika-kampioen op trampolien aangewys. In 2012 was sy Afrika se junior kampioen in dié dissipline. By haar staan een van haar afrigters by die Suid-Kaapse Akademie vir Trampolien-gimnastiekklub (Skat), Riaan Swanepoel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'